Potgrond Poeding!

Casper de Vries het ‘n paar jaar terug die SA publiek se aandag gevestig op stoute woorde wat in ons taal versteek is.  Een hiervan was die woord poespas.  Jip, asems is ingetrek, tantes het flou geval, en laerskool kinders het agter hulle handge gegiggel.  Poespas, of deurmekaarspul, is presies wat ek die volgende nagereg resep noem.  Maar ek wil nie so ver gaan om dit so te doop nie, en ons hou maar by die feit dat die Amerikaners dit ‘Potting Soil Dessert’ roep.  En ja, dit lyk soos potgrond, maar smaak soos stoutwees!oreo

Rasper 4 pakkies swart Oreo koekies – ek raak uitgerasper by die derde koekie, daarom help die vysel en stamper, of ‘n dik Ziplock en ‘n wynbottel om die koekies fyn te slaan.

Kry sommer die kinders om te help.  Genade, dis after all hulle wat gaan smul!

Meng 2 pakkies Vanilla kitspoeding met 4 koppies melk, en wanneer dit lekker deurgemeng is, voeg jy 2 bakkies gladde, ongegeurde maaskaas by, en meng dit ook goed deur.

Neem ‘n glasbak en bou lae:  koekies, kitspoeding mengsel, koekies en eindig met koekies.  Verkoel in die yskas, en val weg met mening!

5 comments Oktober 29, 2009

Nood-leer-Bak Broodjie

Pikkie los die ander dag ‘n comment in die vorm van ‘n resep.  En met die nodige toestemming plaas ek dit vir die Sondagaand wat jy besef die skoolbrood wat jy Vrydag gekoop het, is muf, en daar is nie muffins om in die kosblikke te sit nie.

  • Skorie, ek moet jou vergas met my ‘Nood leer planne maak’ broodjie… Ook sommer so vir die mikrogolf

Bestanddele:
2 koppies bruismeel
2 desertlepels olie
corn2 eiers
2 eetlepels suiker
1 groot blik suikermielies
paprika

Metode:
1 Berei mikrogolf-broodpan (of sommer ‘n langwerpige glasbak) voor en sprinkel paprika teen kante en op bodem.
2 Meng bruismeel, olie, geklitste eiers en suiker.
3 Voeg suikermielies by.
4 Gooi in pan en sprinkel paprika bo-oor.
5 Mikrogolf 9 minute by defrost en 6 minute by Hi

9 comments Oktober 19, 2009

Mikrogolf Koek

Ek is ‘n self-verklaarde nie-bakker.  Kook ja, potte en potte lekker kos.  Maar bak maak my senuweeagtig, en my spasie is te min vir afmetings, sif en knie.

Daarom verwelkom ek altyd maklike resepte wat dalk kon lyk asof dit tyd kon vat, en meet, sif en klits betrokke was.  En wat ek in my klein ko’buisie kan aanmekaarslaan.

Meng 1koppie meel, 1 koppe suiker, 2 eiers, 2 teelepels bakpoeier, 1 koppie kookwater, 3 eetlepels kakao, 1 eetlepel mayonnaise en ‘n 1/4 teelepel sout saam.micro

Gooi in ‘n mikro bak of mikro koekvorm, en bak op hoog vir 7-8 minute.

Versier soos jy daarvoor lus het, of dit nou bedek met ‘n dekandente gesmelte sjokolade sous is, of versiersuiker, onthou net om nie skaam te wees daarmee nie.

Let wel – as jy ‘n wit koek wil bak, vervang die kakao met maizena.

11 comments Oktober 6, 2009

Vanaand se Resep

Vanaand MOET jy jou geliefde vat en uitgaan.

Omdat dit more Erfenis dag is. En ons het ‘n Erfenis van LIEF WEES VIR DIE EEN WAARVOOR ONS LIEF IS.

eetEk wil vir ‘n oomblik vergeet van egbreuk, mishandeling, teistering, seerkry. 

Gaan sit om ‘n bak prawns, of oorkant ‘n stuk tjoklitkoek, en vier die lewe.  Doop ‘n sushi in soya, of trek ‘n kreef se stert uit sy lyf.

Omdat dit ‘n voorreg is om te lewe.  En omdat dit ‘n voorreg is om te kan eet.

Geniet dit!

11 comments September 23, 2009

Pistachio Fudge

pistachioNigella Lawson verskyn gelukkig nie te baie op my TV nie. Sy is nie goed vir die hart nie!

Maar noudie aand kom loer sy weer onder haar wimpers deur, met Kersversierings in die agtergrond (jip, ek se mos altyd die ingilse is nie lekker nie, en hier sien ek dit in September as ‘n feit) en sy konkok daar ‘n dekadensie wat ek net my eie MOES maak deur dit hier neer te sit vir anderdag se onthou…

Jare se dae terug, het ons mos net geweet van rys, vleis en aartappels.  Rou vis gedoop in soya sou bloomers se rekke laat skiet het, en coke met rooiwyn in was iets wat net die Transvalers geken het.  Dis nou nog so, alhoewel ‘n reuse klomp van bo, afgetrek het, met die vreemde konkoksie nie agtergelaat nie! 

‘Neute’ was amandels en salted coctail peanuts, en ‘n pistachio het jou laat rondkyk of iemand dalk gehoor het hoe lelik jy praat toe jy die woord probeer uiter het!  En ook net die ryk mense wat oorsee gereis het, sou daarvan in die huis he.

Nou kan jy ewe grend vir jou ‘n pistachio fudge aanmekaar slaan, mense vermaak met jou uitspraak, en beindruk met jou vermoens.  Jy moet net die regte bestanddele kry.fudge  Daar is niks soos om weg te breek van die ou resep fudge wat in elkgeval almal dieselfde proe nie!  Al seg mense watookal, fudge is fudge is fudge.  Maar NIE die ene nie…

Smelt 350g donkerder as donker, 70% ten minste, se sjokolade, saam met ‘n blikkie kondensmelk en 30g botter.  In ‘n swaarboom pan natuurlik, terwyl jy roer en jouself weerhou om met jou vinger in die warm vloeistof te karring!

Neem 150g UITGEDOPTE pistachio neute, gooi dit in ‘n sakkie, en kraak hulle met ‘n wynbottel of ‘n koekroller, sodat daar groot en klein stukkies rondspring.  Moenie dit in ‘n pulp voeter nie.

Sodra die sjokolade en botter lekker gesmelt is, roer die pistachio neute daarby in, en neem ‘n foelie houer van omtrent 23cm, spuit vinnig met spray and cook, en druk die mengsel styf en eweredig daarin vas.  Laat afkoel, en sit in die yskas om te stol.

Haal dit uit na ‘n uur of 7, en merk die blokkies wat jy verlang daarin af.  Buig die tinfoelie bak se kante om en dop die plak uit, en sny met ‘n skerp mes die afgemerkte blokkies deur.

Kyk hoe lank kan jy vashou aan jou voorraad…

10 comments September 8, 2009

Dik sop teen die Winter se Byt

spiceLente is tradisioneel die tyd wat kieme heerlik kom nesmaak in mens en dier se lyf.  Daarom moet jy voedsame, kiemdodende geregte eet so met die seisoenswisseling saam.

Die medisinale voordele van baie kruie en sommige speserye word oral besing, en hierdie sop/bredie/chowder is geen uitsondering nie.

Wees effe avontuurlustig en pak die resep met ‘n klingel van oosterse klokkies om die enkels aan.

Neem ‘n koppie lensies, kyk goed deur vir klippies, en spoel af.  Gooi in ‘n pot, saam met 1/2 teelepel borrie en 1/2 teelepel seesout.  Gooi 3 koppies water by, en bring tot kookpunt. 

Ontvel ‘n groot tamatie, en sny fyn en gooi die helfde by die lensies.  Sny ‘n kwart groot butternut in blokkies, en voeg ook in die pot.  Sit die deksel op, draai die hitte na prut, en doen binne 30 minute die volgende:

butternutsopVerhit olie in ‘n pan en voeg by:  1 teelepel mostert saadjies, 1/2 teelepel komynsaadjies, 1/2 teelepel koljander saadjies (maak die komyn en koljander effe fyner in ‘n vysel en stamper), 1/4 teelepel chillievlokkies.

Wanneer die mostertsaadjies begin pop, voeg jy ‘n opgehoopte teelepel fyngemaakte vars gemmer, en ‘n opgehoopte teelepel fyngemaakte knoffel, asook ‘n medium ui, fyn gesny, by die speserye.  Roer aanmekaar oor laer hitte totdat die uie gaar is.dhania

Sny twee hande vol spinasie in repe, en gooi dit in die lensie en butternut pot.

lentilsKrap die spesery pan se inhoud in die pot uit, roer versigtig deur sodat die butternut nie opbreek nie.

Bedien met die res van die tamatie bo-op, asook vars koljander blare as jy jou hande daarop kan le!

Se nou net dit klink nie fantasties vir ‘n koue lyf nie…

3 comments Augustus 13, 2009

Kaaskoek

kaaskoekMy ma is vreeslik oor kaaskoek in ‘n restaurant eet.  Maar dan MOET dit ‘n gebakte kaaskoek wees.  Die drilsels wat restaurante soms vir R30 ‘n stukkie voorsit, wat gou in 5 minute uit ‘n boks saamgeflans is, steek haar dwars in die krop.

Hier is ‘n resep vir ‘n vinnige gebakte een, sonder groot omslagtigheid of sweetdruppels.

Breek ** ‘n 300g pakkie tennisbeskuitjies (hoekom is dit Tennisbeskuitjies genoem?), en meng met 250g gesmelte margarien.  Druk dit onder-in ‘n oondvaste bakding vas as kors.

Klits 400g suiker, 400g roomkaas, 250ml room, 6 eiers en 10ml vanilje geursel saam, tot die suiker opgelos is. 

Skep dit bo-oor die kors, en bak vir 15 minute teen 180 grade celcius, OF 25 minute teen 150 grade celcius.

** as jy neute of koekies of iets dergliks moet fyn kry, gooi dit in ‘n sakkie, en le in met ‘n wynbottel.  Dit is die gouste, en skoonste manier.

1 comment Julie 30, 2009

Peppadew – eg Suid-Afrikaans

Dit het die winkelrakke soos ‘n warrelwind getref, en mense het voortande eerste geproe aan ‘n peppadew, voordat dit reguit kies-in gedruk is.

En dit omdat ‘n Oos-Kaapse boer die snaakse vruggie in ‘n vallei op sy plaas ontdek het, en besluit het om dit ‘n hap te gee (my ma het my geleer mens eet nie goed wat jy nie ken nie…)

Vandag stop jy dit met roomkaas, bedien dit met koue vleise, en versier borde daarmee, asof dit maar altyd deel was van die gereg.pepadew

As jy jou hande op ‘n emmertjie peppadews kan le, sny hulle stingelgedeeltes uit, en besluit self:  as jy braaf is, gaan hulle net so pot toe.

As jy egter nie so ‘n vreeslike byt in die mond wil voel nie, week hulle oornag in skoon water.

Neem 1.5liter wit druiwe asyn en 4 koppies suiker asook twee teelepels sout en draai die hitte onder die pot se stert oop.  Gooi 1 eetlepel naeltjies, 1 eetlepel allspice, ‘n stuk heel vars gemmer en 2 stukke pypkaneel in die pot.

Bring tot kookpunt, en blansjeer die vruggies in die sous.

Skep uit in gesteriliseerde flessie, en maak tot bo vol met die sous.

10 comments Julie 3, 2009

Mieliemeel Memoirs

Vakansies op oupa se plaas was, en is steeds vir my sinoniem met wat in die kombuis gebeur het.  Selfs al is dit nie meer ons familieplaas nie, is my eerste gedagte altyd gesnoer rondom wat binne die fondasie van die karige plaashuis gebeur het.

Een so ‘n herinnering is die van mieliepap.  Wat tydsaam staan en prut het op die stoof.  Die elektriese stoof meeste van die tyd, omdat die Dover nognie so vroeg in die oggend vuur in sy pens gehad het nie.

By ma het ons nie mieliepap gekry nie, want die gejaag om betyds die bus te haal, het nie voorsiening gemaak vir pruttyd nie.  En die enkele kere wat ma sommer die mieliepap in die mikro gemaak het, wou ek nie lelik wees nie, maar dit was maar net nie ouma se pap nie.

Spierwitte mieliepap in ou dae se borde.  Met ‘n klontjie botter en baie suiker.  Nie melk nie, dankie ouma.  En as daar kaas was, ‘n klein hopie, elkeen se afgemete deel, as ‘n ekstra’tjie.  Dan het ek die kaas ingeroer en gekyk hoe dit draadjies trek na my lepel toe.  En ek het geeet asof dit uit die mode sou raak.

Wintertyd het oupa met sy Lambsfoot knipmes, papierdun stukkies biltong, skuins voor ete sit en kerf.  En elke kleinkind se afgemete deel is op ‘n kleinbordjie gesit.  Om daarmee te maak wat jy wil.  Net so in die kies gestop.  Op die geel plaasbotter op ‘n mildelike sny plaasbrood gerangskik.  Of ingemeng in die mieliepap.

Ai, vakansietyd was mieliepap tyd.  Met kaas.  Of biltong.  Of ‘n klontjie botter en suiker.

Ek onthou een jaar was daar ‘n mis-oes, en het die wit mielies nie die verbruiker bereik nie.  I.p.v. die sysagte, spierwit pap in die bord, het ouma verskonend gekyk na die growwe, geel kooksel.Scan10006

En het ons neus opgetrek!  Soveel so, dat ouma maar hawermout gekook het vir die res van die vakansie.

Ai ouma, vandag sit ek nie my mond aan fyn, wit mieliepap nie. 

Ek loop draaie en ompaaie om ‘n growwe geel polenta meel in die hande te kry.

Maar ouma, ek eet dit steeds met kaas.  En oupa, soms is daar biltong ook by.  En dan verlang ek julle so, dat my hart pyn, en my trane net wil loop.

10 comments Junie 14, 2009

Om chillies te bewaar

chilliesDie winkels le vol chillies – alle soorte, kleure en sterktes.chillies2

As jy jou eie bos in die agterplaas het, en wil wegsit vir die dae wat jy dit gaan nodig kry, maar die bos nie dra nie, is hierdie wenk vir jou.

Pak flessies vol met chillies van verskillende kleure en vorms.  Skat hoeveel asyn jy sal nodig kry om hulle te bedek, en bring die asyn tot kookpunt.  Gooi ‘n skeut suurlemoensap in die flessies, gevolg deur die kokende asyn.

Maak die flessies tot heel bo vol met die asyn, draai die deksel styf op, keer om, laat afkoel, en voila, jy het jou eie oes bewaar.

21 comments Junie 10, 2009

Previous Posts


visitor stats

Wat kook nog?

Opskeploerders

Kommentare

Skoor on Doel van die blog
Marietta on Doel van die blog
Skoor on Potgrond Poeding!
Sonkind on Potgrond Poeding!
kaneelsuiker on Potgrond Poeding!
Krista on Potgrond Poeding!
Pikkie on Potgrond Poeding!
boervrou on Nood-leer-Bak Broodjie
Pikkie on Nood-leer-Bak Broodjie
Skoor on Nood-leer-Bak Broodjie
Pikkelik on Nood-leer-Bak Broodjie
Pikkelik on Nood-leer-Bak Broodjie
Skoor on Nood-leer-Bak Broodjie
Pikkelik on Nood-leer-Bak Broodjie
Skoor on Nood-leer-Bak Broodjie

skoorbek@gmail.com

Inteken

Blogroll