Mieliemeel Memoirs
Junie 14, 2009
Vakansies op oupa se plaas was, en is steeds vir my sinoniem met wat in die kombuis gebeur het. Selfs al is dit nie meer ons familieplaas nie, is my eerste gedagte altyd gesnoer rondom wat binne die fondasie van die karige plaashuis gebeur het.
Een so ‘n herinnering is die van mieliepap. Wat tydsaam staan en prut het op die stoof. Die elektriese stoof meeste van die tyd, omdat die Dover nognie so vroeg in die oggend vuur in sy pens gehad het nie.
By ma het ons nie mieliepap gekry nie, want die gejaag om betyds die bus te haal, het nie voorsiening gemaak vir pruttyd nie. En die enkele kere wat ma sommer die mieliepap in die mikro gemaak het, wou ek nie lelik wees nie, maar dit was maar net nie ouma se pap nie.
Spierwitte mieliepap in ou dae se borde. Met ‘n klontjie botter en baie suiker. Nie melk nie, dankie ouma. En as daar kaas was, ‘n klein hopie, elkeen se afgemete deel, as ‘n ekstra’tjie. Dan het ek die kaas ingeroer en gekyk hoe dit draadjies trek na my lepel toe. En ek het geeet asof dit uit die mode sou raak.
Wintertyd het oupa met sy Lambsfoot knipmes, papierdun stukkies biltong, skuins voor ete sit en kerf. En elke kleinkind se afgemete deel is op ‘n kleinbordjie gesit. Om daarmee te maak wat jy wil. Net so in die kies gestop. Op die geel plaasbotter op ‘n mildelike sny plaasbrood gerangskik. Of ingemeng in die mieliepap.
Ai, vakansietyd was mieliepap tyd. Met kaas. Of biltong. Of ‘n klontjie botter en suiker.
Ek onthou een jaar was daar ‘n mis-oes, en het die wit mielies nie die verbruiker bereik nie. I.p.v. die sysagte, spierwit pap in die bord, het ouma verskonend gekyk na die growwe, geel kooksel.
En het ons neus opgetrek! Soveel so, dat ouma maar hawermout gekook het vir die res van die vakansie.
Ai ouma, vandag sit ek nie my mond aan fyn, wit mieliepap nie.
Ek loop draaie en ompaaie om ‘n growwe geel polenta meel in die hande te kry.
Maar ouma, ek eet dit steeds met kaas. En oupa, soms is daar biltong ook by. En dan verlang ek julle so, dat my hart pyn, en my trane net wil loop.
Entry Filed under: Lekker maklike kos. .
10 Comments Add your own
Leave a Comment
Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed
1.
Krista | Junie 14, 2009 at 8:05 nm
Ai Skorie . . . .
2.
boervrou | Junie 14, 2009 at 8:57 nm
Haai skoor
Jy skryf sooo mooi, ek eet sommer vanaand weer mieilepap, maar die keer sagtes met botter en kaas. Weet jy wat doen die goed aan my figure??
3.
boervrou | Junie 15, 2009 at 8:35 nm
Is jy beter?
4.
Wipneus! | Junie 16, 2009 at 6:55 vm
Wow dankie Skorie!! Jy het my toe regtig op ‘n reis geneem na die familie plaas en mmm mieliepap. Vanoggend sal ek maar regte egte mieliepap maak vir ontbyt en hierdie bokse met die gedroogde koekies kurkprop (Weetbix) eenkant toe skuif!!
5.
Skoor | Junie 16, 2009 at 11:58 vm
Hello Julle 3 – geen figure verdien om ontneem te raak van mieliepap en kaas nie. Onthou dit. Die lewe is te kort om van slaai alleen te leef!
Ek is beter as gesnyde brood, Boervrou!
Wip, jy’t darem Boervrou se blog sexy gemaak, welgedaan!!
6.
Pikkelik | Junie 17, 2009 at 11:37 vm
((((((((Skoor))))))))))
7.
maankind | Junie 20, 2009 at 5:42 nm
Aaaah, wat van pap en kaiings, pap en kondensmelk, pap en pesto en kaas, pap en tamatie, pap en bacon&eier.
Wie sê ek laaik my pap?
8.
Skoor | Junie 20, 2009 at 7:58 nm
Wat van pap in ‘n bak met jou rug teen ‘n rots en die son wat vonke sprinkel oor die see se branders?
9.
boervrou | Junie 21, 2009 at 7:28 nm
Ai skoortjie. Wanne maak jy weer iets lekker?? K’t vandag malva poeding met vla gemaak. Lekker slaap.
10.
Skoor | Junie 21, 2009 at 8:03 nm
Nee wat Boervrou, ek het ‘n keelvirus opgedoen wat my smaak, reuk en gehoor heel opgeneuk het.
So daar is geen kreatiewe kosdenke op die oomblik nie!
As Limpopo net nie so ver van die Kaap af was nie, het ons kom aanmeld vir daardie malva poeding. Klink my dis een van jou signature dishes daardie!