Dis winter. Ek hou nie van waterige sop nie. Behalwe as dit Thai is met baaaaie lemongrass. Mmmm. Maar ertjiesop en boontjiesop is koning in die Boervrou se hart.
Ertjiesop is so gou, jy wou nog TV kyk, toe is die kos klaar.
Gryp ‘n groot ui. Sny hom rowwe blokke, gooi in ‘n pot met bietjie olie, en braai tot die ui glasig is. Gooi lekker fyn knoffel, VARS natuurlik, ook in, gevolg deur 3 naeltjies en ‘n goeie draai of nege, swartpeper.
Neem baie varkspek, varkblokkies, of varkrib, en sny dit op. Lekker bytgrootte stukkies. Braai dit lekker tussen die uie tot jy hoor jou TV program se kenwysie speel. Gooi die uitgesoekte en gewaste ertjies in die pot, roer deur, en gooi ten minste 2l kookwater op. Dis nou ‘n winkelpakkie ertjies. Soveel.
Seel die pot as dit ‘n drukkoker is. As dit ‘n gewone pot is, moet jy in die advertensiebreuke kom kyk dat die sop nie oorkook nie.
As die drukkoker volstoom bereik het, gee jy die pot so 30 minute maksimum na jy die hitte afgedraai het, en as jy daar oopmaak roer jy mooi deur. Gooi sout in na smaak, water na gelang van hoe dik jy dit wil eet, en laat dit weer deurborrel voor jy opskep.
Lekker eet!
Gooi aartappels en wortels ook in as jy lus het vir moeite en ekstra geur.
Niks daarmee verkeerd nie.
leonvonmoltke
Junie 1, 2011 at 10:41 vm
Njammies!
Krista
Junie 1, 2011 at 1:21 nm
Ek het nog nooit ertjie- of boontjiesop gekook nie . . .
mnr.muller
Junie 1, 2011 at 5:20 nm
Aha, voor Diederik vir Clara kan vra om te trou, kan ons al telkemale in die sop beland.
Marile Cloete
Junie 6, 2011 at 6:40 nm
Klink lekker – maar my manne word party bleek om die kiewe as hulle groen kos sien … Dalk moet ek dit ‘n slag waag … Hulle is darem nou al redelik mak vir groen slaaiblare.
Skoor
Junie 13, 2011 at 12:57 nm
Ai Mnr Muller ek wou jou so graag kom terug kwink oor Diedie en sy Klara, maar heellaas, ek was te laat! Nou is dit hande in as, en stukkende harte.
Marile, as dit koud is buite, dan het mens nogal die manier om nie te veel te wil karring oor wat stomend in ‘n bord voor jou staan nie. Ok, behalwe as dit ‘n oog is wat tussen ‘n greep maag vir my le en wink. By afval trek ek ‘n vet wit streep.
Hoop jou manne like die sop.
Janine
September 7, 2011 at 9:49 nm
Hi Skoor. Kani wag om jou gemmerbier te prbr nie, maar se my, hoeveel en watse ertjies? Split, vars en wat soek ek as ek uitsoek he?
Skoor
Oktober 14, 2011 at 11:56 vm
Janine, gedroogde erte, split is piekfyn. Jy soek klippertjies en stokkies wat dalk agtergebly het met die fabriek se sortering