Om chillies te bewaar

chilliesDie winkels le vol chillies – alle soorte, kleure en sterktes.chillies2

As jy jou eie bos in die agterplaas het, en wil wegsit vir die dae wat jy dit gaan nodig kry, maar die bos nie dra nie, is hierdie wenk vir jou.

Pak flessies vol met chillies van verskillende kleure en vorms.  Skat hoeveel asyn jy sal nodig kry om hulle te bedek, en bring die asyn tot kookpunt.  Gooi ‘n skeut suurlemoensap in die flessies, gevolg deur die kokende asyn.

Maak die flessies tot heel bo vol met die asyn, draai die deksel styf op, keer om, laat afkoel, en voila, jy het jou eie oes bewaar.

23 comments Junie 10, 2009

Panzanella

Panzanella is ‘n Italiaanse slaai met brood as hoofspeler.  Maar nie sommer enige brood nie, nee, dit moet al so 3 dae of wat, oud wees.  Die beste hiervoor is ‘n ciabatta.

Sny die brood in dik snye, en verwyder die korsies.  Sny nou in blokke – enigiets van die grootte van ‘n dobbelsteen tot die grootte van ‘n Melrose kasie.

panzanellaNeem ‘n bak, halveer ‘n knoffelhuisie, en vryf die kante en die bodem vurig met die knoffel.  Moenie skaam wees met die aksie nie, dit sal proe asof jy afskeepwerk gedoen het!

Sprinkel koue water oor die brood – genoeg om hulle klam te maak.  Nie te nat nie, daar word nie met die brood visgevang nie.

Neem ‘n lekker ryp tamatie, en sny haar ook in kleinerige blokkies.  Doen dieselfde met ‘n geel peper (yellow peper).

Skil ‘n komkommer en sny in blokkies.  Kap ‘n kwart slaai ui fyn (jy mag dit uitlos).

Neem ‘n pakkie van tannie Ina Paarman se songedroogde tamaties, sny die tamaties in kwarte, en hou die sous.

Gooi die brood in die bak, gevolg deur die tamatie, komkommer, geel peper, en ui.

Gooi die songedroogde tamaties in, gevolg deur die sous in die pakkie – bo-oor die inhoud van die bak.

Krummel feta bo-oor, gevolg deur ‘n goeie klompie olyf olie.

Meng deur, trek kleefplastiek oor, en verkoel in die yskas vir ten minste 30 minute.

Hierdie gereg raak lekkerder hoe langer dit staan.

Eet dit alleen, of bedien dit by braaivleis.

Voorwaar ‘n goeie idee deur die Italjaners.  Moenie ou brood skeef aankyk nie, hierdie resep leer jou om te mors is ‘n sonde!

1 comment Mei 28, 2009

Gevulde Butternut

butternutAs jy jou mede eters se ogies wil laat rek, sit ‘n halwe pampoen op hulle borde.  Dis al.  ‘n Halwe pampoen!

Maar stop hom met liefde, en sit hom voor met oortuiging.

Ek het nie tyd vir ure se gebak in ‘n oond nie.  En krag is anyway te duur.  Daarom halveer ek my butternut, verwyder die pitte en sommer bietjie van die nek se vlees, en sit dit in die Steam Supreme om gaar te stoom.

So tussen die stoom wat my bril toewasem en die gesels met die huismense, maak jy ‘n pakkie maalvleis gaar met die nodige uie, knoffel, sout, peper en kruie.  Soos wat jy enige mince gaarmaak.

As die butternut sag gestoom is, haal jy dit uit, en plaas dit in ‘n oondvaste bak.  Skep die maalvleis in die hol gedeelte van elke halwe pampoen en krummel feta daaroor.

butternut2Druk dit onder die oond se rooster (grill) en laat die feta ‘n kleurtjie kry.

Haal uit, sit op ‘n bord, skink wyn, en eet heerlik aan jou pampoen.

Jy kan kwart kersie tamaties by die maalvleis gooi die oomblik as jy die hitte onder die pot afsit.  Roer een maal deur, en laat die vleis se hitte die tamaties verwarm.  Blokkies feta, i.p.v gekrummel, maak dit ‘n dis vir die oog.

Die alternatief, as jy ‘n houtstoof het wat heeldag vuur in sy maag het, is om die pampoen in die oond te druk, tot dit heerlik sag is, dit dan te vul, en terug te druk vir die finale afronding.  Maar ek weet tyd is min, en houtstowe nie meer volop nie.

Bon Apetit!

2 comments Mei 13, 2009

Kersie bekoring

Sou enige afsluiting tot ‘n goeie ete saam met lekker vriende dan nie meer volmaak gewees het met iets so verruklik cherries2soos rooi kersies wat slinks oor ‘n roomys helling tuimel, en ‘n stroperige pienk sous agterlaat nie?

Koop dadelik versuikerde rooi kersies.  Sommige winkels hou dit groot-maat aan, kyk wat jou beursie kan bekostig.

In ‘n skoon fles laat jy hulle een vir een inval, taaisels en al, en maak slegs 3/4 van die fles vol.

cherriesNeem ‘n bottel Monis Medium Cream Sherry, en vul die fles.  Vir die volgende 3 weke mag jy slegs kyk hoe die kersies aan jou sherrie slurp.  En jy moet sonder om te murmureer, die sherrie bly aanvul.

Na 3 weke mag jy egter wegspring en daai kersies een vir een uit die fles oppik, en daarmee doen wat jy wil. 

Die beste is egter oor ‘n berg spierwit roomys.  Maar laat jou verbeelding gaan – liefdeskos soos die het nie heinings nie…

Dis maak ook wonderlike geskenke as jy genooi word vir ete by vrinne.  En hoe langer dit trek (maande selfs), hoe beter word die smaak.

4 comments Mei 6, 2009

Frikkadelle/Meatbolz

frikEk het in st. 6 by my ingilse boyfriend gehoor dat hy my ma se frikkadelle ‘meatballs’ noem!  Was ek verontwaardig.  Dadelik besluit om ‘n Boer van hom te maak, en vandag het hy meer tyd vir Afrikaanses as Souties.  Wys jou net.

Frikkadelle het nie eintlik ‘n resep nie.  Dis ‘n gevoelentheid en ‘n weer-probeer tot die smaak reg is.

Een ding staan egter uit soos ‘n paal bo water:  die tipe vleis wat jy gaan gebruik, sal die smaak en tekstuur grotendeels bepaal.  Enigiets anders as extra lean mince sal ‘n vetterige affere tot gevolg he.  Gee daai ekstra R5/kg uit, en koop maalvleis met minimum vet in.

‘n Bietjie ui, sommer gerasper, gee ‘n absolute ongelooflike lekker geur aan ‘n frikkadel.

My ouma het geglo aan soetsuurdeeg beskuit krummels.  As jy egter nie jou hande daarop kan le nie, gebruik winkel krummels.  Nou nie ‘n koppie krummels per koppie vleis nie, maar net so vir die bind en geur slag.

‘n Eier deurgemeng, ‘n bietjie fyngekapte pietersielie en natuurlik sout soos jy verkies, en jy het nie veel meer nodig nie.

Meng dit altyd met ‘n vurk deur.  Hoe meer jy dit met die hande hanteer, hoe ‘taaier’ raak die mengel, en hoe meer gaan dit voel op jy ‘n rubber bal kou, al is die geur hemels.

frik2Rol vinnig in balletjies – die grootte bepaal jy self.  Braai in bietjie olie tot goudbruin, of bedek met foelie, en druk in ‘n 180 grade oond.  Na ‘n uur kyk jy of dit vir jou gaar genoeg is, en haal sommer die foelie af sodat die gereg kleur kan kry in die oond.

Frikkadelle is ‘n private aangeleentheid.  Sorg dat joune ‘n kwaliteit smaak het!  En onthou tog wat jy gedoen het om die unieke smaak te kry.

Ander byvoegings:

Fyn naeltjies – ‘n knippie

Fyn gedroogte koljander – ‘n klein bietjie

‘n Blokkie feta of cheddar in die middel toegedraai

‘n Stukkie sampioen in die middel toegedraai

Kerriepoeier of chillies vir skop en geur

Mrs. Balls by die vleismengsel omdat jy ‘n chutney freak is

‘n Cherry tomatoe in die middel van ‘n groterige frikkadel

Die opsies is eindeloos.  Ek verkies egter die ou metode van so min as moontlik.  Agterna kan jy souse en pastas en dips maak om daarby te geniet.  Maar as jou basiese smaak reg is, is jou ete ‘n sukses.

18 comments April 30, 2009

Koper Pennie Slaai

wortels2Pennies en Ponde, myle en gellings. 

Alles woorde waarvan ek gehoor het, maar ‘n era waarin ek nie geleef het nie.

Daarom reken ek die koper pennie slaai is ouer as wat ons dink – miskien was dit selfs eens op ‘n tyd toe die leeus nog in Adderleystraat geloop het, iets anders genoem!

Trek jou flesse nader, laat die met hande help, en maak bietjie slaai in vir ‘n bykos as jy nie vars slaaigoed in die yskas het nie.

Maak 1kg wortels skoon, en sny in ringe.  Die grootte sal afhang of jy eters met groot monde kosgee, of delikate bekkies voed.

Kook die wortels vir so 15 minute in water waarby ‘n opgehoopte teelepel sout gevoeg is, maar moenie dat dit te sag word nie. 

Sny 3 medium uie in ringe, en kook hulle sommer in die wortel water.  Net so 6 minute.

Neem 2 groenrissies (greenpeppers) en sny dit in kleinerige blokkies.

Pak die wortels, uie en groenrissies in lae in ‘n bak – nie ‘n metaal bak nie, netnou gebeur daar ‘n chemiese reaksie en val jou voortande uit!

wortels5Gooi 250ml water, 1 pakkie tamatie roomsop, 200ml asyn, 250ml suiker, 125 sonneblom olie, 10ml Worcester sous en 7ml mostert in ‘n pot en kook vir 5 minute saam oor ‘n lae hitte.

Gooi die warm sous oor die wortels, uie en groenrissie.  Laat afkoel en sit oornag in die yskas.  Bedien met die volgende ete.

Let wel:  jy kan ook die groente in gesteriliseerde flesse inskep nadat jy dit deurgemeng het, en die warm sous bo-oor gooi en dit dan toedraai, onderste-bo draai en laat afkoel. 

1 comment April 23, 2009

Souskluitjies

Lekker winterpoeding.  Wat het geword van die komme en komme gebakte poedings wat as kind voor my neus verby geskuif is (ek was te vol nonsens, het nie my mond aan gebakte poedings gesit nie!)

Bak mense nog poedings, of het dit saam met ouma en haar geslag, graf toe gegaan?  Is daar dalk iewers nog ‘n Boervrou, waarvan die huis teen 11am so lekker na rys, vleis en aartappels ruik, enige besoeker wens hy was ‘n inwoner?

Stem ek myself nou nostalgies.  Ek het grootgeword in so ‘n omgewing.  En ek was een van daai wilde kinders wat gesorg het dat ek loer wat my tannie kook, sodat ek kon vra vir ‘n bordjie, voordat ek na ouma se huis is vir middag ete!  Die lewe op ‘n plaas.  Kaalvoet.  Vol reuke.  Sorgvry.  Veilig. 

En vandag is dit net die onthou wat oorgebly het.

Sleep jouself nader aan die kombuis, en maak vanaand vir jou gesin souskluitjies.  Sommer met doosvla oor, dis okay.

meelSif 250ml Koekmeel, 10ml bakpoeier en 2ml sout saam.

Vryf hierby 50ml margarien of botter in, sodat die meel soos broodkrummels lyk.  ‘Invryf’ beteken jy neem die meel en botter met jou twee hande se vingerpunte, en vryf dit, wyl jy jou hande effe lig.  Vreeslike tegniek, maar dit werk.  Moenie dit tussen die palms van jou twee hande vrywe nie, jy wil nie speelklei maak nie!

Klits 1 eier en 100ml melk saam, en meng in by meelmengsel tot ‘n sagte, gladde deeg – gebruik ‘n houtlepel of ‘n sterk hand-draadklitser, en voeg nog melk by as die deeg te styf is.

Om die sous vir die kluitjies te maak, bring jy 500ml water en 25ml botter of margarien tot kookpunt.

Skep lepels vol van die deeg in die borrelende water, en sit die deksel op.  Kook vir 15 minute sonder om die deksel te lig en nuuskierig te wees!

Neem ‘n gaatjieslepel en skep die kluitjies in ‘n dieperige opdien skottel uit.

Strooi kaneelsuiker oor.

Bring weer die water tot kookpunt, gooi kaneelsuiker daarin, en gooi die kokende stroop oor die kluitjies.  Meer water kan in die kastrol gevoeg word as die vloeistof te min is.  Volg jou eie kop.

Let op dat ek nie die suiker se hoeveelheid noem nie – dit voeg jy by na smaak.

En as jy gek is oor kaneel, niks verhoed jou om ‘n kaneel stokkie in te gooi by die stroopwater nie!meel2

Lekker eet.

Lekker nostalgies raak.

Lekker bou aan herinneringe en geure en smake vir jou nageslag.

14 comments April 21, 2009

Pepermint Crisp Tert

300px-crispypartsEk staan op my kop en eet my hoed onderste-bo op as iemand my laat weet hierdie resep is nie lekker nie.

Ek dare jou, maak dit, en laat my weet of ek ‘n jokker is.  My ma het haar kinders daarmee bederf, en dit bly ‘n treffer.

Hier volg dus ‘n familie resep.  Vir my om te onthou.  En vir julle om te probeer.

Sit af winkel toe, en koop 1 pakkie tennis beskuitjies, 1 blikkie karamel kondensmelk, 2 stafies regte Peperment Crisp tjoklit, 1 pakkie Orley Whip (vra daarvoor), en gelatien.

Gooi 2 dessertlepels koue water in ‘n bakkie, en strooi ‘n teelepel gelatien daaroor.  Sit in die mikro vir ‘n paar sekondes, en roer vinnig deur.

Rasper die peperment crisp tjoklit, en moenie proe nie…

Pak ‘n laag tennisbeskuitjies in ‘n groot bak.  Nou volg die geheim:  neem ‘n bottel brandewyn, en met jou duim oor die oop bek om die vloei te beheer, sprinkel jy brandewyn oor die beskuitjies.

Klits nou die Orley Whip tot styf, en meng met die karamel kondensmelk.  Gooi 2/3 van die gerasperde peperment crisp by, en meng deur.  Die gelatien kom heel laaste in – meng goed deur, en skep die helfte van die romerige mengsel op die beskuitjies. 

Pak nog ‘n laag beskuitjies bo-op die inhoud, gevolg deur die res van die mengsel. 

Strooi die 1/3 peperment crisp bo-oor, verkoel, en val weg.

Ongelukkig kan jy nie stop as jy begin het nie.  Wees dus gewaarsku!

47 comments April 16, 2009

Yoghurt. Strelende flirtasie!

Daar was aarbei en appelkoos en tjoklit geure.  En dit was yoghurt genoem.  Ek het meeste van tjoklit geur gehou, want ek was ‘n kinders.  Ek is seker steeds ‘n kinders, want tjoklit los my nie uit nie!

Nou as jy iemand wil verlei, of jouself wil bederf, gaan koop ‘n houer ongegeurde yoghurt.  Bulgaars, Grieks, volroom, geen room, vetvry, net soos die gier jou pak.

En ‘n houer heuning.  En ‘n sakkie neute.  Gemengde neute, ongesout.

Kry ‘n brandewyn glas, of een van ouma-se-glas-erfstukkies, gooi ‘n skeut heuning onder-in, en in ‘n droe pan (droog beteken geen olie, maar wel op die stoof warm gemaak) braai jy die neute. 

Hou jou vingers uit die heuning, en jou oe op die neute, skud die pan aanhoudend, yoghurtsodat die neute nie swart rooster nie.  As hulle ‘n mooi geur en kleur het, skep half daarvan in die glas met die heuning. 

Vul die glas tot amper bo met die ongegeurde yoghurt.

‘n Verdere skeut heuning, en die res van die neute.

Nou moet jy iewers loop sit waar jy nie gepla gaan word nie, want grend musiek sal jou ore doof maak.  Sagte beelde sal voor jou oe inloop, en wilde gedagtes sal deur jou lyf tintel.

En dit alles van die poeding/ontbyt/liefdeskos!

15 comments Maart 26, 2009

Komyn hoender in ‘n wrap met dhania en yoghurt

Vrees nie. Skrik nie.

Hierdie resep is so maklik om te maak, jy sal nie eens veel van 7de Laan mis as jy dit in daardie tydgleuf sou aanpak nie!

Inkopielys:   ’n Houer bulgaarse yoghurt – No of Low Fat – en koop maar ‘n grote, ek gee ander dag ‘n magic resep vir hierdie yoghurt.   Hoenderborsies, komyn – heel of klaar fyn, suurlemoen sap, ‘n pakkie vars koljander/dhania blare, en wraps. 

Kyk tog asb die wraps se pryse, aangesien die Spar wraps het vir ongeveer R19 vir 8, en Woolworths ‘n hele R43 vra.  Ook vir 8!!! 

Sny die hoenderborsies in strokies (strips) en laat oornag, of dan vir ten minste ‘n uur, in die sap van ‘n suurlemoen baai.  In die yskas natuurlik.

Spoel die hoender af, en gooi 3 teelepels komyn oor die hoender, asook sout en bietjie peper.  Vars komyn wat jy self in die vysel en stamper fyn maak, se geur is 100 maal beter dan klaar gekoopte fyn komyn.

Marineer so vir 15 minute in die komyn, en verhit bietjie olie in ‘n pan of wok, en braai die hoender tot gaar.  Moenie verbruin of oorgaar maak nie.

In ‘n ander pan verhit jy die wraps droog (geen olie word gebruik, net die warm pan sewrap boom), en gee hom ‘n effense ekstra kleurtjie, maar pasop as dit droog braai in die pan, dit sal breek dit as dit gerol moet word.

Sit die wrap oop op ‘n bord, rangskik ‘n lyntjie hoender daarop, neem yoghurt en plaas ‘n lyntjie al op die hoender se rug, en sit dhania blare op die yoghurt neer.  Rol op soos ‘n pannekoek en val weg!

Daai geure is to die for, moenie vrees nie, jy sal NIE spyt wees nie.  Los die koljander blare as jy nie kry nie, maar dit rond die dis perfek af.

8 comments Maart 19, 2009

Next Posts Previous Posts


visitor stats

Wat kook nog?

Opskeploerders

Kommentare

heidihaasbroek on Kits Suurdeeg Beskuit
Skoor on Kits Suurdeeg Beskuit
heidihaasbroek on Kits Suurdeeg Beskuit
BB on Kaaskoek
Skoor on Kaaskoek
BB on Kaaskoek
Skoor on Om chillies te bewaar
ANDRE on Om chillies te bewaar
Skoor on Nog Kos!
Nadine Smuts on Nog Kos!
Nikita on Maak yoghurt. Jou eie!…
kaneelsuiker on Maak yoghurt. Jou eie!…
Skoor on Maak yoghurt. Jou eie!…
kaneelsuiker on Maak yoghurt. Jou eie!…
Wipneus! on Maak yoghurt. Jou eie!…

skoorbek@gmail.com

Inteken

Blogroll