Crushed Potatoes/Aartappels onder die Vurk

Die ‘in-ding’ op die spyskaarte van sommige restaurante, is ‘n gereg, bedien met ‘crushed baby potatoes’.

‘n Grend woord vir aartappels wat met die vurk bygekom is, omdat die chef te lui is om klonte uit die mash te martel! 

M.a.w ‘n dis tussen kapok aartappels en baba aartappeltjies.

Ek hou van my Steam Supreme.  Ek dink dis net so ‘n goeie uitvindsel soos gesnyde Low GI brood.  Daarom gooi en onbeskaamd die baba aartappels in die Steam Supreme, MAAR ek sit ook ‘n groot huisie knoffel in die stomer. 

bmWanneer die aartappels gaar is, neem jy ‘n pot met olyf olie, lekker warm, en woel die aartappels bietjie rond in die pot tot daar ‘n kleurtjie teen hulle ribbes ontstaan, en almal vol olyf olie is. 

Draai die hitte onder die pot se stert af, en gooi die aartappels in ‘n opdien bak.  Met ‘n vurk druk jy die duiseligheid in hulle in, sommige meer dan ander, en neem die gaar knoffel, gee hom agter ‘n drukkie, en laat die saggekookte vlees in die olie in die pot val, druk fyn met ‘n vurk, en meng deur met die olie.

Gooi nou die olie bo-oor die aartappels meng dit deur, en Ina Paarman se garlic & herb sout werk fantasties om die crushed potatoes mee te geur.

Bedien saam met varkworsies of beesworsies, as die alternatiewe mash by Bangers and Mash.

3 comments Maart 12, 2009

Lees jy jou strokies deeglik voor jy betaal?

angry

Ek doen hiermee ‘n formele beroep op die Suid-Afrikaanse verbruiker om kasregister strokies DEEGLIK na te gaan, voor die geld/kaart in daardie geborgde omhulsel geplaas word.

Ek is verlede week so gevang, en as die eienaar van die restaurant nie belowe het om my te vergoed nie, sou ek die naam hier geplaas het.

Aan die einde van ‘n aand is mens soms in so ‘n goeie luim, jy kyk na die totaal onder-aan die strokie, bereken ‘n fooitjie en betaal.

Ons is ekstra gehef vir ‘n dis wat die kelner verkeerd by die kombuis bestel het, verkeerd na ons tafel gebring het, dit gaan regstel het, en toe goedgunstiglik by die kasregister strokie gevoeg het.

Die volgende dag het ek besluit om ‘n brief aan die eienaar te stuur, nadat die kwaliteit van die kos wat ons gehad het, definitief nie op standaard was nie, en toe sien ek die FOUTJIE! 

Ek het hom ‘n effense vies epos gestuur, en hy het my geskakel en omverskoning gevra, en beloof om my te vergoed met ‘n eetbewys.  Nou hou ek maar die pos dop…

Verder, liewe verbruiker, moet julle bedag wees op sekere kettingwinkels in hierdie land.  Op my dorp is byvoorbeeld drie van een soort, en by elk van daardie drie het ek dieselfde ervaring gehad:  die rakprys, en die kasregister prys, is NIE dieselfde nie.  Ek is soms meer as R2 per produk meer gevra.  Ek is nou al so vurig op hulle saak, ek baklei oor ‘n 5c verskil!

As hulle op elke produk ‘n paar sent, of ‘n paar arrogante rande maak, is dit te verstane dat hulle winkels almal ‘face lifts’ kan kry wat derduisende beloop.  Want ons het daarvoor betaal.  Ek gee nie om of jy klip en aards by jou bakkery het nie, ek wil net he die winkel moet skoon wees.  Ek koop nie lekkerder omdat jy bigscreen TV’s by die betaalpunt het nie, ek wil eerlike diens he!

Snaaks, ek het dit aan ‘n webwerf eienaar genoem ‘n paar dae terug, en hy het presies dieselfde ervaring gehad.  En dit in ‘n ander provinsie…  Ek wonder of ‘loop die verbruiker in’ een van hulle verbruikers riglyne is.

Wees bedag en op jou hoede.  As jy probleme het, gaan na die webwerf  www.hellopeter.com, registreer daar en laat jou stem hoor.  Dit is tyd dat die verbruiker in hierdie land opstaan teen ongeruimdhede, swak diens en patetiese kwaliteit.

Jy kan ook op bg. webwerf pluimpies deel – iets waaraan daar ook ‘n tekort is as mens goeie diens ontvang.

5 comments Maart 2, 2009

Mossel Sop of Mossel Pastasous

Hierdie vinnige resep is reg vir ‘n mossel sop op sy eie, bedien met ‘n broodjie, of as ‘n pasta sous, bedien op spaghetti of linguine.

Kry ‘n kilogram vars mossels by jou naaste viswinkel/fishmonger, en sorg dat die baarde verwyder is voor jy dit kook.  Ek gooi myne sommer in varswater na dit skoongemaak is, ingeval een nog sand wil uit nies.

mosselsNeem ‘n ui, gesny in fyn blokkies, en braai tot amper bruin in olie.  Gooi fyngesnyde kool en wortel by.  Grof gerasper, as jy nie die geduld het om fyn snywerk met ‘n mes te doen nie.  So ‘n halfkoppie van elk.

Roerbraai dit tot die geure jou maag mal maak, en gooi ‘n teelepel fyngesnyde VARS knoffel by.

Maak ‘n hoogvol teelepel groente aftreksel of hoender aftreksel aan in 500ml kookwater, en gooi in die pot.  Meng die groentes lekker deur.

Neem ‘n glasie witwyn, gooi dit ook in die pot, en hou die deksel vir eers af.

Wanneer die mengsel kookpunt bereik, draai jy die hitte effe laer, en gooi ‘n skeut room, so 125ml, in.  Roer deur, geur met sout en swartpeper as jy die groentemossels2 geproe het. 

Die waaghalsige kok sal hier by die proe, sommer die res van die houertjie room ingooi, maar ek raak te nervous met baie room in my kos.

Laat die room effe verdik, en gooi die vars, skoongemaakte mossels in, met die deksel op.  Na 5 minute loer jy of die mossels al begin gaap.  Na 10 minute verwyder jy enige mossels wat nog toe is na die stadige stoom proses.

Roer een maal deur, en bedien in sopbakkies met lekker vars brood, of gooi gekookte spaghetti of linguine in die pot, roer deur, en na 5 minute is dit opskeptyd.  Ook natuurlik met ‘n stukkie brood op die kant, en ‘n lekker glas wyn.

Dit is ‘n MOSSEL gereg, daarom die hoeveelheid.  Ek haat dit tog so om te gaan soek vir mossels in my kos.  Ek soek eerder die pasta of die brood, as wat ek 3 mossels en ‘n helse klomp sop moet deurwerk.

3 comments February 18, 2009

Emma se Pampoen en Spek hartskos

Vriendin Emma Dixon het weer ‘n huppel in haar stap, en ‘n giggel in haar keel.  En saam met al die stuitighede stuur sy vir my ‘n MOET PROBEER resep.  Nogal in ingils.  Emma weet ek verstaan weinig van ingils, maar sy steek ook nie haar hande uit om te help vertaal nie, so here goes:pampoen

Pampoen en Spek onder die oondrooster:

Neem 500g pampoen of butternut, afgeskil, en in hapgrootte stukke gesny.  Sit die oond op 180 grade celcius, en gooi die pampoen in die oondskottel wat jy kan uitvoer met tinfoelie, sou jy nie lus wees vir die gesukkel om die aanbrandseltjies later te probeer verwyder nie.

Sprinkel 30ml rooiwyn asyn daaroor, en 30ml olyf olie.  Kap 3 knoffelhuisies fyn (moenie nou neuk met gefermenteerde winkel knoffel in ou olie nie – yskaste sonder vars knoffel, is soos ‘n dorp sonder krag…regtig donker!) en gooi die knoffel baldadig tussen die pampoen se ribbes rond.

Neem ‘n teelepel koljander – droog – en gee dit so ‘n kneus in die vysel en stamper, net so dat die balletjies in 2 spring.  Sprinkel die koljander en ‘n teelepel gedroogde brandrissie bo-oor die dis wat nou begin lyk na ‘n kind se tekening – jolig en vol kleur.

Druk dit in die oond, en draai die pampoen na 20 minute om met ‘n vurk.  As die panbacon altesaam 30 minute in die oond was, haal jy dit gou uit, en sny ‘n rooi ui (wit sal ook werk) in kwarte, skei die lae, en strooi oor die pampoen, asook ‘n pakkie spek, in klein stukke gesny.

Druk terug in die oond vir 15 minute.  Haal uit, en gooi 3 gekapte tamaties oor, en champskrummel ‘n wiel of meer feta kaas bo-oor.  Drup nog ‘n olyf olie sessie oor die inhoud.

Druk weer in die oond vir 10 minute, voel of die pampoen deurgaar is.

Rangskik basil blare bo-op die dis, en sit voor by pasta of ‘n lekker stuk hoender. 

En natuurlik yskoue ietsies…

8 comments Januarie 28, 2009

Prawns op die Rooster

prwnsDis somer. 

En in die Skoor woning is dit buite kosmaak tyd.

En wat beter as om ‘n rooster prawns (garnale vir die taalpuriste soos ek sou wou wees) voor te sit, en te sien hoe almal vingers aflek na die ete!

Prawns is vir een of ander rede redelik goedkoop by kettingwinkels die tyd van die jaar, so kry jou boks of twee, en gooi die gevriesde lyfies in water om te ontvries – dit gebeur sommer vinnig.

Wenk:  moenie lui wees nie - bly weg van deshelled and deveined prawns – die geur is saam met die doppe die ewigheid in.

Druk die kombuissker agter die nek in, en knip deur dop en vlees tot onderkant uit.  Neem ‘n tandestokkie en verwyder die dermpie wat sigbaar is as jy die ruggie ooptrek. As die sker nie diep genoeg geknip het nie, neem ‘n skerp mes en vlek die prawn verder.

Ek sny gewoonlik op hierdie stadium die koppe ook af, maar jy kan dit onder die kraan uitspoel en saam met die lyf gaarmaak.  Dis net dat ek nie koppe eet, of die inhoud daarvan nie, en die voelers in die pad is.

Nou neem jy ‘n peri-peri sous, of ‘n soet chili sous, of ‘n eenvoudige fyngekapte knoffel en prawnssuurlemoensap, sommer in ‘n ou roomys bak, en marineer die prawns vir ten minste ‘n uur in die marinade.

Oor baie ligte kole (anders brand hulle lelik) braai jy die prawns gevlek, of toe, totdat die doppe pienk raak.  Moenie oorbraai nie, want dan raak die vleis melerig en yukkie.

Bedien met slaai en hierdie fantastiese broodjies!  En baie koue witwyn.

2 comments November 24, 2008

Marshmallows en Pynappel Tert

Hierdie sal seker die laaste inskrywing vir die jaar 2008 wees, aangesien dinge mos nou sonder brieke voortsnel na ‘n seisoen van son, see en suid-oos (as jy ‘n Kaapenaar is).

Die tert is hemels, maar so soet, jy voel om ‘n suurlemoen agterna te snuif, net om die balans te herstel.

Maar dit is die seisoen van oorboord gaan, so ons doen dit dan met ‘n ‘bang’!

Pak ‘n laag tennisbeskuitjies in ‘n tert pan – reghoekig werk beter, omdat tennisbeskuitjies nie so lekker met ‘n ronding breek nie.  Tupperware houers werk ook uitstekend.

Neem 1 blik kondensmelk, en ‘n 1/2 blikkie suurlemoensap (dis nou die lee kondensmelk blikkie) en meng met ‘n klitser, of draadklitser tot dik. 

Klits ‘n yskoue 250ml houertjie room tot dik, en gooi 5ml vanillageursel by.  As jy ‘n vanilla saad in die yskas het, sny hom in 2 en skraap die swart goud in sy maag uit, en voeg dit ook by.

Knip ongeveer 20 marshmallows, van die gewone pienkes en wittes, in kwarte met ‘n kombuissker.  Sny sal jou net frustreer.

Meng nou die dik kondensmelk mengsel met die room mengsel, gebruik ‘n houtlepel, en meng stadig – dit is nie ‘n meng kompetisie nie, meer ‘n invou aksie word vereis.

Neem ‘n blik fyn pynappel, gooi die sap af (daai sap smaak heerlik met sodawater gemeng.  En vir die grootmense ‘n knertsie iets by…) pynappel2

Gooi die marshmallows en pynappel by die kondensmelk/room mengsel, en vou alles saam in.

Gooi die mengsel oor die koekies, en gooi fyngemaakte koekies bo-oor.

Sit in die yskas vir ‘n uur of drie, sodat die tert kan stol en koud word.  Die beste is om op hierdie punt dorp toe te gaan…. dit spaar krag, want jy sal elke 5 minute in die yskas wees met ‘n ‘toetsvinger’ en dit is fataal!

Soos ek se, sit die eindproduk voor met ‘n suurlemoen.  Maar lekker sterk tee in die oggend, of ‘n koue koeldrank in die middag, werk net so goed!

Geniet, en lekker eet.

4 comments November 18, 2008

Paul Krugerkoek

Paul Krugerkoek

Met die dat Oktober die maand is waarin hierdie belangrike leier van die Boerevolk, se verjaardag herdenk word, het ek op oom Peter Thomas se webwerf, www.peterjasie.co.za, gaan steel, en plaas ek dit vir die onthou.  Moet tog net asb. nie vir Luke Watson van die koek aanbied nie, hy stik te gou aan enigiets Afrikaans!

 

500 g botter

625 ml bruinsuiker

10 eiers, geskei

750 g koekmeel

5 ml koeksoda

5 ml sout

5 ml kaneel

8 ml foelie

5 ml fyn naeltjies

5 ml gemengde speserye

300 ml brandewyn

2 ml amandelgeursel

500 g korente

250 g gemengde skil, gesnipper

 

Klop botter en suiker tot lig en romerig. 

Voeg eiergele een vir een by en meng goed na elke byvoeging. 

Sif droeë bestanddele saam. 

Voeg geursel by die brandewyn. 

Voeg droë bestanddele om die beurt met brandewynmengsel by bottermengsel. 

Skud korente en gemengde skil saam met ‘n bietjie koekmeel in ‘n sakkie. Voeg by mengsel. Meng goed. 

Klits die eierwitte styf en vou in. 

Gooi in goedgesmeerde uitgevoerde pan. Sprinkel bietjie melk bo op om barste te voorkom. 

Bak 2½ uur by 180ºC. 

Plaas bruin papier bo op koek nadat dit 1 uur lank gebak het.

3 comments Oktober 19, 2008

Gemmerkoekies

Desember kom nader, en die koekblikke skree vir ‘n kermis of bazaar om hulle weer vol te kry, maar met die regte resep en ‘n paar gewillige hande, is daar geen verskoning hoekom jy jouself nie kan vestig as tuisgebak meester in jou eie spasie nie!
500 g sagte botter
500 ml sagte bruinsuiker
250 ml goue stroop
sowat 80 ml gemmerkonserf, gedreineer en fyn opgekap

1 kg bruismeel
10 ml elk koeksoda en kremetart
5 ml sout
2 ml gemaalde gemmer
2 eiers, geklits
ekstra koekmeel, indien nodig 

 

 

Sif die droë bestanddele by die bottermengsel in en meng goed saam.
Voeg die eiers by en meng saam tot ‘n sagte deeg.  Neem ekstra meel op die hande as die deeg te onhanteerbaar is.

Vorm klein balletjies en plaas op gesmeerde bakplaat, of rol uit en druk vormpies uit.  Die gemmerbroodmannetjie vorms is soms by Mr Price Home, Clicks of Boardmans te kry.  Soek net.  Anders moet jy maar jou eie vormpie buig, maar ek weet nie regtig hoe nie.   

Bak sowat 8 tot 10 minute. Lewer sowat 80 koekies.

Let op dat die deeg `loop’.  Laat genoeg ruimte tussen elke balletjie.   Of rol deeg dun uit om ‘n heerlike bros koekie te kry.

14 comments Augustus 27, 2008

Daar’s chocolate mousse op die draadloos!

Amore Bekker van RSG (Die Bek) het haar blessing gegee dat ek die resep kan plaas, so thanx Bek.  :)

Amore het ‘n manier waarop sy die volk aan die kook wil kry, of die liefde in haar lewe wil leer kook met die volk se idees, ek kon dit nognie uitfigure nie, maar dit is nietemin ‘n treffer.  Luister mooi, jy mag Helen Zille hoor resepte gee, of ‘n boetebessie hoor giggel.  Anyway, dit is gatskop draadloos, vol verassings.  Weeksdae na 16:30 kan jy begin uitluister vir haar resepte oproep.

Sy bel Vrydag ‘n tannie, ene Minette, en die gee die wonderlikste mousse resep oor die lug.  So lekker, ek proe sommer die mousse, en toe die tannie amen se, toe gooi ek sommer in my gedagtes ‘n doppie 10 Jaar KWV ook by daai mousse.

Neem 18 marshmallows (nie die geure van druiwe en mango en daai twak nie, nee, die gewone wittes en pienkes), ‘n groot blik Ideal Milk, en ‘n slab tjoklit, by name Midnight Velvet.

Sit marshmallows, tjoklit en 100ml Ideal Milk in ‘n glasbak, en smelt stadig in die mikro.  Klits gereeld met ‘n draadklitser om die klonte uit te kry, en te sien dat alles smelt en vermeng.

Verkoel die res van die Ideal Milk, en sodra die mikro-mengsel afgekoel is, klits jy die Ideal Milk styf, en meng in by die tjoklit-mallows.  Dit is ook nou net hier waar ek vir ekstra geur ‘n doppie KWV inwerk.  Verkoel en val weg.

Dankie tannie Minette, ek gaan dit probeer met die eerste buite ete van die lente, waar ons die tafel op die grasperk kan uitdra!

23 comments Augustus 19, 2008

Die Wosonkies se Pot Roast

Jaco, jy kry die naweek ‘n lekker stuk vleis.  En as jy jou gedra, groente daarby!

Ek het ‘n vreeslike heerlikheid in die vorm van ‘n platboom swartpot gekry.  Ma erf by ouma, ek erf by ma.  Daar is nog een pot wat ek eye, maar as ek gaan kuier, word die pot sommer in die klerekas toegesluit.

In hierdie pot van my, is, en word steeds heerlikheide opgetower.  Maar as jy nie so ‘n swartpot het nie, onthou, waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!

As jy die stuk vleis identifiseer en aangekoop het, marineer hom sommer dadelik.  Gooi in jou vysel en stamper, ‘n lekker skeut growwe sout, ‘n paar peperkorrels, suurlemoensap van een suurlemoen, ‘n knoffelhuisie (twee as hulle effe klein is) en ‘n paar takkies vars roosmaryn.  As joune deur die winter gevrek het, gebruik dan maar die gedroogde soort.  So ‘n teelepel vol.  Gedroogde kruie is meer gekonsentreerd as varses.

Maak die mengsel lekker fyn, en gooi so ‘n halfkoppie olyfolie by, meng deur, en vrywe die stukkie bees asof dit sy laaste vryf is (en dit is!)  Nou kan hy oornag in die yskas le met ‘n draai so al om die 4 ure, of ten minste vir 2 ure as jy haastig is.

Voorverhit jou oond na 200 grade celcius.  Sit die vleis in ‘n oond roosterbak, met die res van die sousies.  Los daar vir ‘n uur en kry die groente reg.

Ek het ‘n Steam Supreme, en glo dat daai groente net anders smaak.  As jy nie dit het nie, kook ‘n aartappel of 3 en ‘n paar wortels, ‘n handvol beetknolle en ‘n groot, heel ui in water.  Miskien moet jy die beet apart kook, anders het jy pienk aartappels, bruin wortels en ‘n vleeskleur ui.

As die groente amper gaar is, dreineer en sny in kwarte.  Maak 2 huisies knoffel skoon en sny ook in kwarte.

Sprinkel olyfolie oor groente, en sprinkel seesout oor.  Op hierdie stadium kan jy ook rou knopie sampioene en ‘n paar groenbone byvoeg.  Of ‘n murgpampoentjie, in die lengte deurgesny. 

Na die uur van kook verby is, haal die vleis uit die oond, gooi die groente rondom die vleis in die oondskottel, en sit terug in die oond vir nog 30 minute.  Sorg egter dat die groente so warm moontlik by die vleis gevoeg word, sodat die kookproses net kan aangaan. 

Na 30 minute behoort ‘n stuk vleis van tussen 5-6kg, meer spesifiek ‘n ‘rib of beef’ (met bene) medium gaar te wees.  Hou dit langer in die oond indien jy dit gaarder wil he.  Hou tog net die groente dop en keer dat dit verbrand.  ‘n Termometer wat jy in die vleis druk om die mate van gaarheid te bepaal, is nogal ‘n aanwins as mens baie met groot stukke vleis werk.  Kyk by spesialiteitswinkels wat kombuisware verkoop daarvoor – dis nie so duur nie.

Haal die vleis uit die oondskottel, draai dit toe in foelie, en laat rus vir 20 minute.  Verwyder die groente en hou eenkant warm.  Ek druk dit sommer weer terug in die oond, toegemaak met tinfoelie.

Dis nou ook op hierdie punt dat die liefling die tafel moet dek, en die wyn moet oopmaak – gebruik die wyn wat jy gaan drink om mee te kook.  Druk die borde ook in die afgeskakelde oond om hitte op te bou.  Koue borde maak kos gou koud en onsmaaklik.

Sit die oondskottel met die kooksousies op die stoof, skakel die plaat aan, en gooi ‘n halfkoppie rooiwyn in die skottel, tesame met die ui wat vroeger gekook is, en die knoffel wat saam met die groente ingesit is.  Druk die ui en knoffel fyn met ‘n vurk en bring die sous tot kookpunt.  Die alkohol moet verdamp, en met ‘n houtlepel skraap jy al die lekker brandseltjies los van die boom van die skottel, en wag dat die sous verdik.

Weereens span jy vir lief in om die vleis te sny en op ‘n mooi bord te sit, en rangskik die groentes daarom.  ‘n Gereg vir ou liefdes – die tyd van beindruk is verby.  Hierdie is kos vir saam-oudword-eters.

Sit voor met ‘n goeie glasie rooiwyn, en geniet mekaar se geselskap.

3 comments Augustus 14, 2008

Next Posts Previous Posts


visitor stats

Wat kook nog?

Opskeploerders

Kommentare

heidihaasbroek on Kits Suurdeeg Beskuit
Skoor on Kits Suurdeeg Beskuit
heidihaasbroek on Kits Suurdeeg Beskuit
BB on Kaaskoek
Skoor on Kaaskoek
BB on Kaaskoek
Skoor on Om chillies te bewaar
ANDRE on Om chillies te bewaar
Skoor on Nog Kos!
Nadine Smuts on Nog Kos!
Nikita on Maak yoghurt. Jou eie!…
kaneelsuiker on Maak yoghurt. Jou eie!…
Skoor on Maak yoghurt. Jou eie!…
kaneelsuiker on Maak yoghurt. Jou eie!…
Wipneus! on Maak yoghurt. Jou eie!…

skoorbek@gmail.com

Inteken

Blogroll