RSS

Hoender in ‘n bad

24 Jan

So eens in ‘n blou maan gaan ek in my Dashboard in, en dan kyk ek na die search engine terms.  Wat sien ek vandag?  Iemand soek ‘n resep vir Heel Hoender – op my blog!

Gmpf, jy’s bietjie vroeg surfer van die kuber ruim, maar as jy weer hier sou verbykom, is hier ‘n moerske wenner wat wag vir jou om hom te maak…

Skoor se onderdompelde heel hoender

Vir meer as 3 eters het jy 2 heel hoenders nodig – hierdie gereg vlieg by die keelgaaie af.  En 2 dae se geduld.  Neem ‘n plastiek emmer/kom/houer – nie metaal, a.g.v die bestanddele…

Een koppie suiker en een koppie sout.  Ja, jy het reg gelees.  Koppies.  Daai goed waaruit jy jou oggend koffie nuttig.

Nou kom die kreatiewe spelery.  Koop by Fruit en Veg van die cheap vrugtesappe wat hulle so adverteer.  ‘n Lemoen of mango geur.  Of appel.  Daai liter bokse.  Gooi dit in die kom, by die koppies sout en suiker.

Gooi by:  ‘n rolletjie of twee kaneel, fyngebreek, 3 naeltjies, 2 teelepels roosmaryn – droog of nie – ‘n teelepel chilli vlokkies of poeier – moenie stres nie, die kiep gaan nie jou bekkie brand nie. 

Die sap van 2 uitgedrukte lemmetjies of suurlemoene, en gooi sommer die skille ook daarin.  Neem 6 huisies knoffel, en met die platkant van die mes druk jy hulle vas teen ‘n snyplank, en laat kom jou plat hand op die slagoffer neer, sodat hy aansienlik dunner, maar langer is.  Gooi hulle in – sommer vel en al.  Sny ‘n ui of 2 in kwarte, en gooi in.

Verstaan asseblief dat dit ‘n kreatiewe proses is – alles wat jy het, kan hier ingaan!  Koljander – gekraak, swartpeperkorrels, ook gekraak.  Speel deur jou kombuiskaste!  Gryp die oorbly bietjies alkohol.  Wyn, brandewyn, enigiets.

Daar is nou plusminus 1.250liter vloeistof, en ‘n helse klomp ander goed in.  Roer met ‘n houtlepel om lekker te meng – sout en suiker gaan nie nou al oplos nie, relax.

Sit die hoender(s) in die bak, en maak vol met water sodat die hoender(s) onderdompel is.  Maak toe met clingwrap, en sit in die yskas – maak sommer die yskas ‘n slag skoon, ja!  Wanneer ek een klein hoender maak, het ek al ‘n roomys bak gebruik.  Vanselfsprekend minder van alles, BEHALWE die sout en suiker bly dieselfde!  Maar dis maar asem ophou as alles daai ingedruk moet word.  Miskien ‘n 5liter roomysbak.  Jip, dit behoort die truuk te doen.

Nou vergeet jy van die hoender en maak ander kos.  More aand vergeet jy nie van die hoender nie, want jy draai hulle om, dat die ander kant weer bietjie onder le.

En oormore trek jy die kiepe uit hulle bad, en gooi dit net so in ‘n baksakkie.  Sit sakkie in ‘n bakskottel, en bak vir 1.5-2ure, afhangende van hoe groot die vogel is.

JY SAL MY WEER KOM SEG WAT JY DAAR GEPROE HET – DIT IS ‘N BELOFTE EN ‘N CHALLENGE!

Sit sommer net slaai daarby voor, want niks anders gaan aftrek kry nie.  Komaan, wat het jy om te verloor?

Onthou tog die metode vir die Kersfees Kalkoen – ek plaas my waarborg stempel op hierdie reseppie, en het ek al ooit spek geskiet hierso? 

 
19 Kommentaar

Posted by op Januarie 24, 2008 in Skoor kook oor!

 

19 responses to “Hoender in ‘n bad

  1. TristonJ

    Januarie 24, 2008 at 12:06 nm

    Skoor ek is braaf maar nie so braaf nie…😆

     
  2. Skoor

    Januarie 24, 2008 at 12:49 nm

    TristonJ, dis net hier waar jy jouself onderskat!

    Lees die resep 3x deur, dan sien jy ek klets die bladsy vol, eintlik is die resep ‘n handjievol dinge – en dit is die maklikste maklik, en ek belowe jou, die lekkerste lekker!

    Toe, ek dare jou!

     
  3. TristonJ

    Januarie 24, 2008 at 1:10 nm

    nou maar fine dan, ek sal dit die naweek probeer… en as daar nie n post op my blog is maandag dan weet jy jy is verantwoordelik vir my dood!😉😆

     
  4. Skoor

    Januarie 24, 2008 at 2:02 nm

    Onthou dus om vanaand die hoender in te sit, want eers Saterdag aand kan jy dit geniet!! En ek belowe jou, jy sal NIE dood nie. Altans nie van die hoender nie. Jy mag dalk aan ‘n beentjie stik, of die weerlig kan jou raakslaan terwyl jy in die donker sit en knaag aan die karkas, omdat jy nie wil he die bure moet sien hoe lekker jy eet nie, maar van die resep, aikona, hys dood proof!

    Net so in die algemeen aan alle vrinne: wat groei op hoenders as daar beurtkrag toegepas word? Ek bedoel, as die krag vir ‘n minimum van 2 ure afgaan, en die yskaste hou op werk, en die lugversorging van die winkel hou op werk, WAT GROEI OP HOENDERS?

     
  5. Zee

    Januarie 24, 2008 at 8:45 nm

    F@k Skoor, die trane rol nou soos ek lag, maar nou wil ek weet oor die sout – ‘n hele bleddie koppie vol, wat doen die sout dan nou?
    En ja, my moet maar die skoorkook goed mail, kry dit nie lekker geprint nie (So bietjie dof sien)😆

     
  6. ding

    Januarie 25, 2008 at 3:20 vm

    Dagsê Skoor
    Hmmmm…
    Hmmmm…
    HMMMM…
    Skoor, die hart is van goud, maar klop regte egte rooi bloed; die mond is ‘n filter van gedagtes uit die brein vlymskerp geslyp … EN dan maak jy uit van kosmaak?!
    Ding makie mense bymekaar nie, is so, maar wragtag ook, maak my honger en ding word summier ‘n Esau van ouds – is net dat hierie hoender darem aansienlik smaakliker klink as lensiesop! Pas tog asb. my erfgoed op – moenie dat ^ss^ hierie resep innie hande kry nie … jy sal sien hoe word sy ‘n Jakob van weleer.
    Maar Zee, die koppie sout is mos nou om wat ookal oppie hoender gegroei het, af te haal … eeeeuuuuwww …. m@er! Ding wonner: so, behalwe vere: wat groei op hoenders daai tyd?!

    O ja, DIS hoekom ding eintlik hier was: jou blog lyk befog; ding bedoel bevange. Ding lees nou lekker!

     
  7. skoor

    Januarie 25, 2008 at 8:24 vm

    Ding, dankie vir jou pittige komplimente – laat altyd lesers met ‘n glimlag agter. Seg my, jy’s nie dalk oorle’ oom Jan Spies wat teruggekom het in Ding nie? Het net gewonder, want die oom het mos ook so ‘n diep kant – soos ‘n selfgeboude swembad – gehad, maar altyd ‘n stukkie humor, of ‘n lewensles tussen die lyne ingevleg. Jy lag nog so lekker, dan wil die trane loop.

    Ek se jou wat: voor jou stoutste sus hier inloer, gee JY haar die resep, maar vervang die koppie sout en koppie suiker, met 2 koppies asyn! As sy haar meesterstuk voorsit, is joune ook al in die oond, maar met die regte resep. En Ding ‘saves the day’! Watter aspirant wat suurhoender voorsit, sal erfgenaam benoem word?

    Zee, saak staan so, ek ken nie van die reaksies wat plaasvind nie, maar die suiker en die sout het verseker ‘n effek. En ja, soos Ding se, die sout preserveer en reinig, en jy hoef nie agterna die kiep oop te rek om die ingewand ruimtes en onder die blaaie te sout nie – hy het sy smaak tot op die been.

    Ek skryf dan nou die resep soos ‘n storie, want mens onthou mos ‘n storie beter as ‘n resep. Dink aan die storie, en jy’t nie nodig om te print nie, maat! Of sit jou rekenaar aan, hol ko’buis toe, rekenaar toe, ko’buis toe – sien, Skoor spaar jou nog gym fooie ook!

     
  8. mykopop

    Januarie 25, 2008 at 8:55 vm

    Skoor, ek weet nie as die hoender net so in die yskas lê wat op hom sal groei nie, maar ek dink as mens hom gou in daardie onderdompeling van jou kry gaan daar niks op hom groei nie.

     
  9. boendoe

    Januarie 25, 2008 at 8:59 vm

    Skoor, hierdie lyk na ene wat ek ook sal kan baasraak. Sal kom rapporteer! Siende dat maalvleis ons stapelvoedsel is, enige mince reseppies?? Hmmm? Of is dit te alledaags vir jou kreatiewe brein? 😀

     
  10. Dellie

    Januarie 25, 2008 at 12:00 nm

    Dit klink heerlik. Ek gaan dit ook probeer, maar nie hierdie naweek nie. Hier is te veel mense, ek sal ses hoenders in die wasmasjien moet marineer!😯 En nou is ek vreeslik honger…

     
  11. Skoor

    Januarie 25, 2008 at 12:22 nm

    Die wasmasjien!

    Dis die beste plan wat ek nog gehoor het. En jy hoef hulle nie om te draai nie, jy sit net ‘n wassiklus aan.

    Jy kan altyd dit in die bad laat le, en die gaste buite met die tuinslang afspuit as badtyd aanbreek. So spaar sommer jy water en krag. Daai geld betaal weer vir die hoenders.

    Ja Kop, daai kieme het twee kanse: of die sout gaan hulle kry, of die oorskiet alkohol gaan hulle so lighoofdig maak, hulle sal sommer versuip!

     
  12. Dellie

    Januarie 25, 2008 at 1:17 nm

    Whahaha Skoor, ek sien die prentjie van die gaste afspuit met die tuinslang… sal HULLE net eers goed moet marineer in alkohol, dan sal hulle seker nie omgee nie.😆

     
  13. Kaalvoetkind

    Januarie 25, 2008 at 1:48 nm

    Ek het nou lekker gelag vir al hierdie sêgoed!!! Dis nou vir jou ‘n resep met ‘n twist en ‘n half!!🙂 Moet self sê dat Ding my darem baie aan oorle Jan Spies herinner…

     
  14. ria

    Maart 25, 2009 at 12:17 nm

    se my werk die resep regtig.wil graag hier op my gasteplaas gebruik vir saterdagaand…gaste het `n hoenderbraai aangevra…dan soek ekke dringend `n lam spitbraai marinade ook vir die naweek…danke schoen

     
  15. Skoor

    Maart 25, 2009 at 12:27 nm

    Ria, as ek jok, dan kan jy dit in hoofletters op die site sit, en mense gaan dit raaklees.

    Ek belowe vir jou soos die ANC regering nie kan nie, dat hierdie resep ‘n wenner is. As jy hom more (Donirdag) insit, eet jou gaste hulself knoppense Saterdag aand.

    Met lekker pampoen of butternut en ander groente en ‘n knoffelbroodjie, mmmm, ek is sommer self nou honger!

    Kyk gou, onder die kreef se stert prentjie, is daar ‘n oranje blokkie vir ‘search’. Tik marinades daarin, en kyk wat spoeg uit.

    Lees daardeur, en besluit self hoe jy daai towerkos wil bedruip.

    Waar is daai gasteplaas, magtag, dit lyk die mense eet lekker daar!

     
  16. ria

    Maart 25, 2009 at 9:10 nm

    ek gaan dit more begin en nooi jou…..dit is sprokie mooi by ons…namibia….so mooi groen na al ons reen…danke!!!!!!!!!!

     
  17. Skoor

    Maart 26, 2009 at 8:05 vm

    Julle is gelukkiger as ons Kapenaars – alhoewel die helse hitte gebreek is, bly die reen weg. Maar ons glo en vertrou dit sal ook mettertyd opdaag.

    ‘n Suid-Wester? Welkom op die blog! Ek het vanoggend op die nuus gehoor daar sit nog mense in kampe na al julle reen, maar ek het ook al gesien hoe mooi dit lyk na sulke reen. Geniet die landskap skilderye, en neem foto’s – julle weet mos hoe dit kan lyk as die water nie die dag opdaag nie.

    Lekker eet!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: