RSS

Malle maalvleise

29 Jan

Van hierdie basiese ‘seasoned mince’ kan jy ‘n wye verskeidenheid disse optoor – moenie skaam wees om jou verbeelding vrye teuels te gee nie, want anders gaan jy nooit kan se jy sing uit volle bors op die ritme van die sterre se vonkel nie!

Neem maalvleis, seker so ‘n kilo – kyk, ek gee nie sommer gramme en milliliters deur nie, want my lewe werk nie in sekondes nie, ek vreet die ure, so gebruik jou instink.

Gooi daarby die sout wat jy dink jy nodig het om dit smaakvol te laat, en draai genoeg swartpeper daarin om nie chaos te veroorsaak nie.  ‘n Handvol broodkrummels, lekker fyn, ‘n teelepel gedroogde kruie, of vars, en ‘n eier of twee.

Neem jou hande en meng hierdie heerlike kunswerk in wording, goed deur.

Nou kan jy maak:

Kook ‘n pot vol ontvelde vars tamaties, of ‘n paar blikkies heel, geskilde tamaties, vir een uur plus – kyk, met ‘reduce’ in resepte, en op TV, beteken dit dat die vloeistowwe verminder, en die geure meer intens gekonsentreerd raak.  Met ‘n pot tamatie wat staan en kook, gebeur daar hemelse dinge – jy maak amper jou eie tamatiepuree. 

Gooi asseblief knoffel by die tamaties – moenie skaam wees nie, en sout na smaak, verkieslik heel aan die einde van die kookproses, wanneer alle konsentrate bereik is.

Rol klein of groot balletjies tussen jou hande, en laat in die tamatiesous inplons.  Soos frikkadelle.  Nou kook jy hul tot dit die gaarte bereik wat jy jou vleis verkies, toets een vleisbolletjie deur hom te eet, wat anders!

Sit voor op spaghetti, en dink jy’s in Italie!

‘n Ander opsie is om ‘n halwe sampioen in die middel van so ‘n vleisballetjie te versteek, en dit te kook soos bo, of om dit in ‘n oondbak te pak, en met foelie toe te maak, en te bak tot gaar.

Of jy maak ‘n gevulde vleisbrood.  Neem ‘n oondvaste glaspan – soos ‘n metaal broodpan – en verdeel jou aangemaakte vleismengsel in twee.  Voer die onderste gedeelte van die pan uit met die een helfde van die vleis, en pak sampioene en ‘n harde kaas, sommer in blokkies gesny, bo-op die vleisbed.  Los ‘n gedeelte oop teen die kant van die pan vir die boonste deel om geseel daarop te gaan.

Aaaah, smeer of spuit die pan met spray and cook, asseblief, anders eet jy met jou vurk uit die glaspan!

Dan bedek jy die sampioene en kaas, met die res van die vleismengsel, bak tot gaar, en as dit uit die oond kom, smeer jy Mrs Balls of Sweet Chili sous lekker dik bo-oor, en gee dit so ‘n paar minute voor jy dit uitdop en soos brood sny en voorsit met ‘n slaai.

Onthou maalvleis kom ook voor in lasagne en mousakka – dit hoef nie net op toast voorgesit word nie!

 
15 Kommentaar

Posted by op Januarie 29, 2008 in Skoor kook oor!

 

15 responses to “Malle maalvleise

  1. Roer

    Januarie 29, 2008 at 5:48 nm

    Ek’s bly jy se^ “gebruik jou instink”, want ek is die koningin van improviseer as dit kom by kos maak tot my man se bittere spyt.

     
  2. Nikita

    Januarie 29, 2008 at 8:04 nm

    Ek sal my man kry om hier te kom lees…hy is deesdae die kok in die huis… ek het myself lankal terug bewys…dis nou sy beurt… lol!

     
  3. Dellie

    Januarie 30, 2008 at 11:47 vm

    Ek kry ook soms snaakse goed reg met maalvleis, maar skryf dit nooit neer nie, en het gewoonlik nie ‘n clue hoe om dit weer te maak nie. So elke maalvleis dis is ‘n surprise! Maar ek gaan bietjie ‘n vleisbroodjie probeer.😉

     
  4. skoorblok

    Januarie 30, 2008 at 11:58 vm

    Jong, if all else fails met maalvleis, gee hom mrs Balls, en maak toeklap roosterbroodjies daarvan – dis altyd ‘n wenner, veral met ‘n bietjie kaas by.

    Dis reg Roer, om so gekondisioneer te wees dat jy elke resep tot die naat volg, sal my stiksels laat lostorring. Ek vertel mos nie hier van bak nie, ek verstaan daar moet mens maar op die lyn hou, maar kook…aikona!

    Jy bedoel die pad na jou man se hart was deur sy maag, en toe jy hom gekerk het, is die potte en panne na sy kant van die verhouding geskuif, Nikita? Ek wil dit he! ‘n Vrou wat op haar regte staan, is ‘n vrou wat ook weet hoe om ‘n pan te gebruik – noudie dag by Clicks kyk ek na ‘n nuwe pan, en die een winkel assistent wat al jare daar is, staan nader en se so ewe: ‘dis da’m ‘n lekke pan daai, ne?’

    Haak ek af, tot haar verbasing: ‘bietjie lig om die man op die regte pad te hou’. Haar lag het getrek tot op die onderste vloer van die winkelsentrum!

     
  5. boendoe

    Januarie 30, 2008 at 4:20 nm

    Hmmmm…daai vleisbrood klink yammie! Ons het een ding in gemeen, Skoor. ‘n Liefde vir knoffel. Nie daai soort wat mens koop in bakkies, klaar gesny in olie nie. Vars knoffel. Dis die hemelste ding op aarde. Ek gooi dit letterlik in alles. (En ek het my eie, vars pietersielie om die klankies tee te werk! :D)
    Ek moet se, jy klink so lief vir kosmaak en eet, dat jy my al begin inspireer het om met nuwe oe daarna te kyk. Hoekom moet mens dag in en dag uit dieselfde boring ding maak EN eet?? Dalk het ek ‘n kok in my wat wag om te ontsnap! Ek kan ure lank na BBC Food kyk, maar voor die kospotte voel ek so toe soos ‘n klei-os se gat.

     
  6. Skoor

    Januarie 31, 2008 at 8:49 vm

    …en eet! Ja, wys my die vrou wat nie lief is vir eet nie! Daai dun tingeriges smaak ook van ietsie lekkers oor die lippe, maar hulle wil dit nie aan die lyf doen nie. Wel, ek geniet eet.

    Ek het destyds my skottel gekoop omdat ek Kyknet wou he – toe wapper ek deur die kanale, en kom op BBC Food af. ‘n Konsep waarom ek nie lekker my kop kon kry nie, want hoe maak ‘n mens nou ‘n program oor resepte? Wel, ek het gekyk, en gekyk en gekyk, en nou sien ek herhaal hulle weer die reekse wat ek destyds gekyk het.

    Ons het ‘n klein kombuis – ‘n townhouse is mos deur ‘n man ontwerp, en kombuis is amper kleiner as badkamer (sorry nugterdenkende manne daarbuite), wat seker indirek ‘n redding is, want anders was daar chaos. Ek hou daarvan om te kook. Bak kan ek nie regtig nie, of laat ek se, dit trek my nie juis nie.

    Knoffel is koning. As ek niks in Fruit & Veg kry as ek daardeur stap nie, koop ek nog ‘n huisie knoffel – ek weet mos dit gaan nie lank le nie!

     
  7. boendoe

    Januarie 31, 2008 at 11:37 vm

    Eet, ja, en dit behoorlik doen! Die lekkerste van eet is wanneer dit soos ‘n kuiersessie raak. Nie 2 ure in die kombuis staan en swoeg en die kos in die keelgatte afgooi in 5 minute nie. Nee, gesels, aan ‘n wyntjie suie, en die kos met elke happie PROE. En ek het ‘n swak vir met die hande eet. Nou nie enige ding nie, maar daar is niks so lekker soos ‘n bord vol prawns met knoffelbotter wat by jou ken afdrup en jy lek jou vingers so elke dan en wan… 😀

     
  8. ^stoutsus^

    Februarie 1, 2008 at 12:44 nm

    Mince is darem een vleis wat ek verstaan en redelik gereeld gebruik. Cool nuwe idees!!

    So, wanneer sien ons jou op BBC Food???

     
  9. skoor

    Februarie 1, 2008 at 3:18 nm

    BBC Food? En vir Nigella ‘n go vir haar kurwes gee… mmm, soos ek vroeger genoem het, ek het definitief ‘n radio gesig!

    Het jy Boet se plan en pleidooi onder die Hoender in die bad inskrywing al bestudeer? Miskien het hy dit al tot uitvoer gebring, hy’t net nog niks laat weet nie!

     
  10. ^stoutsus^

    Februarie 5, 2008 at 8:00 vm

    Ek dog mens kyk BBC Food vir kos en nie vir die lywe nie…

    Boet is ‘n spesie op sy eie. Sal loop loer watter eier hy gele het oor die kaalgat hoender.

     
  11. skoor

    Februarie 5, 2008 at 8:55 vm

    Daai verdomde Nigella het mos ‘n manier om haar hele lyf voor die gereg in te gooi. Ek wonder of enigiemand aan die einde van ‘n epi weet waaroor dit gegaan het, of watse disse sy voorberei het!

    Skrikwekkend, maar waar. Kyk bietjie, ek sien sy is juis deesdae weer op.

    BBC Food kan gerus hulle reeks-versameling bietjie verbrand en van voor-af begin – ek kyk dit so min deesdae, want alles het ek reeds gesien. Twee maal al!

     
  12. ^stoutsus^

    Februarie 5, 2008 at 9:39 nm

    Ek kyk self die kos anties en ja, sug, die goete is moer toe ge-recycle… Ek het gevrek oor Ready, Steady, Cook – kan gerus ‘n nuwe reeks doen.

     
  13. Skoor

    Februarie 6, 2008 at 12:34 nm

    River Cottage, Cooked en The Hairy Bikers! Veral die Bikers het my elke week op die vloer gehad met hulle vertellings en opvoerings voor die kameras. Ready Steady Cook was okay, maar Ainsley kan bietjie op my bors spiere werk, as jy vang wat ek bedoel.

    En my restaurant rules was ‘n gunsteling in die gesin. Vasgenael, weddenskappe op wie gaan wen.

    O, en Jimmy’s Farm was ek mal oor. Maar die boer in my wat wil sien dat ander ‘n sukses maak. Al is dit ‘n verdomde Pom.

    En Rick Stein. Ek is seker daai oom is so skeef soos ‘n walvis se ribbebeen, maar hy is vreeslik entertaining en besoek die ongelooflikste plekke. Hy bewe soos ‘n ou alkie, en sy hondjie laat my lag.

    Vir Jamie Oliver met sy irriterende spraakgebrek, wil ek net met sy eie rooi-kol-panne reghelp!

     
  14. ^stoutsus^

    Februarie 7, 2008 at 11:20 vm

    Jy ken bepaald jou food channel. River Cottage is gross maar entertaining. En ja, Ainsley kan bietjie te veel raak.

    Restaurant rules is great. Mens is geneig om te dink dis nie so moeilik nie, maar ai, daar is altyd iets waaraan jy nie gedink het nie of mense nie van hou nie.

    Rick Stein is dierbaar. Dink hy kan lekker stories vertel.

    Jamie…mmm…little boy wonder with a wooden spoon. Sy spraakgebrek is vir my weer cute, maar dis al. Vergaap my so daaraan ek sien nie eers wat in sy potte aangaan nie.

     
  15. Skoor

    Februarie 7, 2008 at 4:12 nm

    Ek is besig om ‘n kenner op Discovery Channel te word – soos wat ek destyds net BBC Food gekyk het, so is die dekodeerder nou net op 250.

    Skoorkind en ek kan tog vreeslik meegevoer raak as ons sien wat alles op daardie kanaal vermag kan raak. Net die soccer hooligans werk bietjie op my nerwe. Vir die res is dit ‘n fees vir die kreatiewe oog!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: