RSS

Bak ‘n slag beskuit

14 Mar

Ek is ‘n self erkende bakkers flop. 

Ek is nie een vir afmetings en die fyn balans van bakpoeier of suurdeeg en rys en afknie nie.  Dit was my ouma se nis.  Myne is kook en eet.  En geniet.

Maar so af en toe, veral so met die herfs wat ons bekruip, en God wat oornag die wereld om ons in ‘n kleurkaart van brons(tighede) omskep, is ‘n mens darem lus vir ‘n stukkie beskuit so met die oggend tee saam.

Daarom het ek begin soek na die maklikste, maar lekker voedsame beskuit, en ek dink ek het dit gekry.  Ek sal maar die mates en metode puntsgewys hier neersit, want hierdie gemeet en gemeng het nie plek vir ‘n storie nie. 

Skoor se Wenbeskuit:

500g Botter (margarine is amper teflon, dis sommer nonsens!)

250ml Suiker – bruinsuiker werk ook

10ml Sout

500ml Karringmelk

1kg Bruismeel

15ml Bakpoeier

5 Koppies Semels (digestive bran – dis daar op die winkelrak, kyk net)

250ml Klapper

125ml Sonneblom saad, of lynsaad, of sesamesaad, of meng die 3

3 Eiers

60ml Kookolie

Oond op 190 grade celcius aangeskakel. 

Smelt botter oor lae hitte en voeg by:  suiker, sout, karringmelk.  Meng goed.  Haal van hitte af.

Sif bruismeel en bakpoeier.  Meng met semels, klapper en sade.

Klits eiers en kookolie.  Voeg by botter- en melkmengsel. 

Roer in by droe mengsel, meng deur.

Skep in gesmeerde broodpanne. 

Bak 45 minute tot 1 uur.  NB:  Na 20 minute stel die oond AF na 180 grade celcius.

Sny wanneer afgekoel, en droog uit.

Lewer die helfde by my af….

Dis regtig die moeite werd om dit net een keer te probeer.  Ek wou ook maar nie sommer hieraan byt nie, maar met die regte verstellings in die kop, het dit bobaas uitgekom.  En Skoorlief was baie erg oor my hierna. 

 
9 Kommentaar

Posted by op Maart 14, 2008 in Lekker maklike kos

 

9 responses to “Bak ‘n slag beskuit

  1. Zee

    Maart 14, 2008 at 3:07 nm

    Dankie Skoor, sal gereeld hier inloer!

     
  2. Nico

    Maart 14, 2008 at 3:08 nm

    Soos jy altoos seg, “Prys die Heer met blye galme!” Ek is so bly iemand het so blog begin! Al gaan dit net daaroor om daardie vraag te antwoord wat nooit wil weggaan nie: “Wat eet ons vannaand?” Nou weet ek: Kyk wat het Skoor in gedagte!😉 Enjoy, ek sal so nou en dan kom inloer.

     
  3. Skoor

    Maart 14, 2008 at 4:24 nm

    Julle kan kom inloer, maar as julle ‘n resep het, mail my, en ek werk hom in ‘n ligsinnigheid in, en plaas hom hier.

    Ek sal uit kos idees hol as die blog wil vol bly!

    Ja Roer, dit KOOK hier!

     
  4. Roer

    Maart 14, 2008 at 5:13 nm

    Skoor, dis nou ‘n bak (get it?! bwahaha) idee. Die blog meen ek nou. Bakgat.

     
  5. Nico

    Maart 16, 2008 at 7:00 nm

    Nou Skorie, hoe moet ek vir jou ‘n reseppie e-mail as ek nie jou adres het nie? Myne is nicovdm@vodamail.co.za; ek sal vir jou ‘n paar stuur as jy sou belangstel. Ek wou nou juis met jou ‘n resep deel; Ek het hom nou net aangemaak; Dis sulke Kaapse weer hier in Pretoria en dit beteken net een ding: PANNEKOEK!!! Hy flop net nie en is baie maklik.

     
  6. De Wet du Plessis

    Julie 8, 2008 at 10:24 vm

    Wat kan ‘m mens in die plek van KArringmelk gebruik? Hier in Dubai kry ons nerens karringmelk nie!!!!

    Skies oorlat ek so bietjie laat na die oorrspronklike pos reageer maar ek het eers vandag van julle gehoor via Peterjasie!

    Fabulooslike (wat ‘n jeggie woord!) web kuierplek!

    Groete uit ‘n Kokende Dubai

    De Wet

     
  7. skoor

    Julie 8, 2008 at 8:57 nm

    Hallo De Wet – geen reaksie op geen pos, is laat nie – hierdie is ‘n ‘page down resepteboek’!

    Ek weet nie van karringmelk vervanging nie, ek weet wel dat jy melk suur maak met suurlemoen sap, en is karringmelk nie maar juis suur melk nie?

    Probeer en laat weet!

    Kokende Dubai? Hier het ek vandag gaan sneeu kyk, 170mm reen in 5 dae uitgegooi, en sit soos ‘n haas voor die kaggel. Geniet die warmte, alhoewel ek nie ‘kokend’ mis nie.

     
  8. Roelien

    Februarie 22, 2013 at 3:47 nm

    Jou resepte is amazing dankie!

     
  9. crossforge

    Desember 15, 2015 at 3:47 nm

    Karringmelk is heel wat dunner as suur melk, want dis die water wat oorbly nadat room gekarring is tot botter. Suur melk kan werk as vervanging maar dit is beter om plain yoghurt te gebruik om karringmelk te vervang. Meng so 2 eetlepels water by 250ml ongegeurde yoghurt om dit bietjie te verdun. Maas werk ook goed as dit verdun word maar ek twyfel of jy dit in Dubai gaan kry.

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: