RSS

Die Ultimate Boontjiesop

12 Mei

Jou ouma het dit gemaak, jou ma het ook, en jy het nie ‘n clue hoe nie…

Moenie vrees nie, Skoor het dit uitgefigure, en hier volg die stappe.  Maklik.  Vanaand sit jy die bone in water, more aand eet julle sop voor die TV dat julle nie kan opstaan nie.

En dit het alles gister begin kook na ek R45 vir ‘n half-glas rooiwyn moes betaal.  Dit gebeur as jy nie vra wat wyn kos nie, en as jy in ‘n restaurant eet waar daar net smart lables op die bottels geplak is!  Dan keer jy terug huis toe, en begin kook om jou hart te stil, en jou mense se lyfies warm te kry, want die Kaap is weer Hollands:  alles is nat.

Gaan winkel toe, en koop ‘n pakkie Lappies boontjies.  Dit behoort so R10 te kos.  As daar nie lappies is nie, die rooi bone werk net so goed.  Soek die bone goed deur vir klippe – ja, ek het gister 3 netjiese groottes in ‘n pakkie gekry – en ook lelike/slegte bone.  Spoel dit af, en bedek met kookwater.

Oor ‘n uur of 3 vul jy die water aan – die bone gedy en styg bo die water uit.  Vrees nie.

Sny ‘n groot ui in ringe, gevolg deur ‘n hele 3 knoffelhuisies in skyfies.  Verhit ‘n drukkoker pot (sien, ek het vroeger gewaarsku dat dit die ding is vir die seisoen!) en gooi die ui daarin.  Neem varkvleis – ek het 2 tjops gekry, die vet verwyder, die vleis in klein blokkies gesny, en die bene ook gebruik – maar spek werk net so goed.  Braai dit en die uie saam.  Let wel, geen olie word gebruik nie, die vark smeer die bodem, en die ui het nie ‘n greep op die boom nie.

As die vleis lekker geseel is, neem die bone, dreineer, en gooi in die pot.  Vul met kookwater tot redelik oor die bone.  Gooi 3 naeltjies bo-op, asook die knoffel, en ‘n draai of meer swartpeper.  Geen sout op die stadium nie, die bone raak glo taai.

Drukkook die sop vir 1 uur 15 minute.  Volg die instruksies van jou pot om die deksel veilig af te kry.

Roer deur, of neem die aartappel fyndrukker en ‘mash’ ‘n gedeelte van die bone om meer gemengde voorkoms aan die sop te gee, m.a.w. ‘n balans tussen heel bone en sop.  Op die stadium mag jy dalk nog kookwater wil byvoeg – hoe dik eet julle graag sop?  Net asb. nie vreeslik waterig en dun met hierdie ene nie, dit is ‘n vuller vir die plat ribbes, en om die sop dun en onsmaaklik voor te sit, is soos om te gaan sop in die Spur eet:  dit gaan nie so lekker wees nie…

Gooi ‘n groot lepel tamatiesous in, gevolg deur ‘n half teelepel suiker, en ‘n halwe suurlemoen se sap.  Nou doen jy die sout na smaak, en ‘n boontjiesop sonder sout is wragtag aaklig – onthou dit!  Nou kan jy dit verder laat prut tot jy voel dit is tyd vir ete, of omdat jy nou net aartappels* bygevoeg het, en dit moet sagkook.

As jy drukkoker-loos is, verdubbel die kooktyd in ‘n pot, en proe en voel maar die boontjies vir sagtheid.

Hierdie sop vries perfek, want hier is nie aartappels in nie.  *As jy alles in een sitting gaan verorber, sit gerus klein blokkies aartappel in.

Kook volgende keer met 2 pakkies boontjies, dan het jy meer om te vries vir die aand wat jy tuis kom en nie weet watter kant die son gesak het nie.  Nog ‘n lekker Low GI reseppie…

 

 
21 Kommentaar

Posted by op Mei 12, 2008 in Lekker maklike kos

 

21 responses to “Die Ultimate Boontjiesop

  1. boendoe

    Mei 14, 2008 at 6:14 nm

    Skorie, Sondag is ek by die huis! Se dit maar hier, want ek wil weer my kennertjies surprise. En hierdie soppie gaan ek maak. Op my primus! (Ek hoop daar is nog beurtkrag?) Dit klink sooo romanties: boontjiesop op ‘n primus! Of nie?

     
  2. skoor

    Mei 15, 2008 at 8:04 vm

    Beurtkrag is weer op pad – EKSDOM kon nie die steenkool voorrade genoegsaam aanvul nie (nie dat ons ooit geglo het hulle sou nie…)

    Maar tans lewe ons soos eerstewereld bewoners – ook net wat elektrisiteitsvoorsiening betref – en kan jy dit op die stoof aanpak, alhoewel jy duurder betaal vir die krag wat jy gebruik as die gas wat jy gebruik.

    Geniet dit. Onthou om die bone te week, en daai water af te gooi. Dit verminder nogal die opbou van gas in die ingewande. Ek spoel sommer so 3 keer die bone deur. Nie lus vir geweld in die huis nie! 🙂

     
  3. Hannelie

    Junie 6, 2008 at 8:50 vm

    Wat is lappiesboontjies?

     
  4. skoor

    Junie 6, 2008 at 9:09 vm

    Dis ‘n wit boon, en by sy naeltjie is dit bruin. Op die pakkie sal dit ‘Lappies’ se.

     
  5. Lindy Pienaar

    Mei 24, 2011 at 3:58 nm

    Die resep lyk baie lekker en ek gaan dit beslis probeer. My mense dink ek kan net groentesop kook – sal hulle wys!

    Het jy dalk ‘n resep vir Hollandse ertjiesop.

     
    • Eurika

      Mei 26, 2011 at 9:52 nm

      sit ‘n bietjie daai Groentesop reseppie oplyn Lindy… want eks goed met ‘n Weigh-Less groente sop en ‘n lekker spekvleis boontjiesop…maar ek kan nie ‘n lekker groentesop maak nie.. Ek te geneig om te veel groentes en goed in te sit en dan kom dit ‘n bredie uit…lag. Lekker sop eet hier oor die koue maande.

       
  6. Skoor

    Mei 26, 2011 at 7:55 vm

    Hallo Lindy

    Die resep is foolproof. Probeer hom.

    Ek het nie ‘n Hollandse ertjiesop resep nie, net ‘n Boere ertjiesop wat ek kook. Ek sal die resep nog plaas, kom loer weer. Ek dink anyway die Boere ertjiesop stam af van die Hollandse sop!

    Lekker kook.

     
  7. rampie

    September 5, 2011 at 3:43 nm

    Ek ken die boontjie sop want my ouma het dit ook so gekook. Sy het ook n stuk patat fyn gesny ,en ingesit. Ons gebruik die wit boontjie -Haricot -wat jou glad nie winderig maak nie. Dit is perfek vir boontjiesop. Jy sal nie weer ander sop eet nie

     
  8. Skoor

    Oktober 14, 2011 at 12:01 nm

    Hello Rampie

    Jou ouma was ‘n wyse vrou om patat ook in te sit. Vandag se patats is so ‘laf’ in smaak, mens het amper nie eens lus om dit vir die erdwurms te voer nie! Kry jy egter daai mooi bruin kleur met die Haricot bone??

     
  9. edgar

    Maart 4, 2013 at 5:24 nm

    waar kan ek lappies bone koop in johannesburg area

     
  10. Leana du Plessis

    Mei 30, 2013 at 11:47 vm

    Ai, lekker. Ek kook ook net met lappiesboontjies, want dit maak die sop dikker (romeriger) en dan bak ek patats in die oond heel en met skille aan in die oond en sit saam met die boontjiesop voor.

     
    • Malan Gerber.

      Oktober 1, 2020 at 4:27 nm

      Leana, waar koop julle die lappiesbone asb. ‘n Ou vriend van my boer naby Prince Albert en hulle soek lappiesbone, maar ek kry nie hier in die Kaap nie. My naam is Malan Gerber.

       
  11. Irma

    Junie 8, 2013 at 7:50 nm

    Wit patats asseblief, nie die geelwortelpatat wat nou op die mark is nie. Jig.

     
  12. Rita

    Januarie 17, 2014 at 1:06 nm

    Ek wil net graag weet of dit nodig is om die boontjies vir boontjiesop af te water, tydens die gaarmaak daarvan. Niemand noem dit in hul resepte nie. (voorkom glo winderigheid) My ma en ouma het dit gedoen. Ek doen ook, maar dis asof die sop dan bietjie smaak verloor .

     
  13. Maliske

    Julie 9, 2014 at 8:39 nm

    Ek geniet die resepte van Skoor terdee. Dis heerlik en awesome en die kommentaar laat my skaterlag. Baie dankie dis awesome

     
  14. Esme Crafford

    April 25, 2015 at 11:39 nm

    baie goed dankie

     
  15. sarah

    Julie 13, 2015 at 11:56 vm

    ek het heerlike bonesop met gerookte varkskenkel gekook maar ongelukkig laat aanbrand. Het jy enige raat hoe ek van die effe brand nasmaak ontslae kan r
    aak?

     
  16. Peet

    Junie 14, 2016 at 8:47 vm

    Aan Sara. 😀😀 noemi die sop laat brand nie😄

     
  17. Hydi

    Maart 26, 2018 at 3:56 nm

    Hier kom ek toe wraggies op ñ oulike blad af…mense nou gaan die potte prut met al die lekker soppe en en en.

     
    • skoor

      Augustus 15, 2019 at 4:41 nm

      Hoop jy eet nog lekker!

       
  18. Kathleen

    September 2, 2020 at 9:10 vm

    Sarah , red wat jy kan van die sop en kook dit dan stadig oor , plaas groot geskilde aartappel saam in pot , dit trek glo die ergste brandsmaak uit jou kos , so het die ou mense van vanmelewe se dae geglo .

     

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: