RSS

Souskluitjies

21 Apr

Lekker winterpoeding.  Wat het geword van die komme en komme gebakte poedings wat as kind voor my neus verby geskuif is (ek was te vol nonsens, het nie my mond aan gebakte poedings gesit nie!)

Bak mense nog poedings, of het dit saam met ouma en haar geslag, graf toe gegaan?  Is daar dalk iewers nog ‘n Boervrou, waarvan die huis teen 11am so lekker na rys, vleis en aartappels ruik, enige besoeker wens hy was ‘n inwoner?

Stem ek myself nou nostalgies.  Ek het grootgeword in so ‘n omgewing.  En ek was een van daai wilde kinders wat gesorg het dat ek loer wat my tannie kook, sodat ek kon vra vir ‘n bordjie, voordat ek na ouma se huis is vir middag ete!  Die lewe op ‘n plaas.  Kaalvoet.  Vol reuke.  Sorgvry.  Veilig. 

En vandag is dit net die onthou wat oorgebly het.

Sleep jouself nader aan die kombuis, en maak vanaand vir jou gesin souskluitjies.  Sommer met doosvla oor, dis okay.

meelSif 250ml Koekmeel, 10ml bakpoeier en 2ml sout saam.

Vryf hierby 50ml margarien of botter in, sodat die meel soos broodkrummels lyk.  ‘Invryf’ beteken jy neem die meel en botter met jou twee hande se vingerpunte, en vryf dit, wyl jy jou hande effe lig.  Vreeslike tegniek, maar dit werk.  Moenie dit tussen die palms van jou twee hande vrywe nie, jy wil nie speelklei maak nie!

Klits 1 eier en 100ml melk saam, en meng in by meelmengsel tot ‘n sagte, gladde deeg – gebruik ‘n houtlepel of ‘n sterk hand-draadklitser, en voeg nog melk by as die deeg te styf is.

Om die sous vir die kluitjies te maak, bring jy 500ml water en 25ml botter of margarien tot kookpunt.

Skep lepels vol van die deeg in die borrelende water, en sit die deksel op.  Kook vir 15 minute sonder om die deksel te lig en nuuskierig te wees!

Neem ‘n gaatjieslepel en skep die kluitjies in ‘n dieperige opdien skottel uit.

Strooi kaneelsuiker oor.

Bring weer die water tot kookpunt, gooi kaneelsuiker daarin, en gooi die kokende stroop oor die kluitjies.  Meer water kan in die kastrol gevoeg word as die vloeistof te min is.  Volg jou eie kop.

Let op dat ek nie die suiker se hoeveelheid noem nie – dit voeg jy by na smaak.

En as jy gek is oor kaneel, niks verhoed jou om ‘n kaneel stokkie in te gooi by die stroopwater nie!meel2

Lekker eet.

Lekker nostalgies raak.

Lekker bou aan herinneringe en geure en smake vir jou nageslag.

 
16 Kommentaar

Posted by op April 21, 2009 in Lekker maklike kos

 

16 responses to “Souskluitjies

  1. Wipneus!

    April 21, 2009 at 11:00 vm

    Yes, dit is juis so koud vandag! Dis soos winter hier in Gauteng!!

    Nostalgies, dis wat ek vandag wil raak!!

    Skorie ek bak nog poedings!!! Wat kan ek sê ek hou van lekker kos!!!😆

    Kook en bak is vir my terapeuties, ek gaan in my eie wêreld in as ek aan die kruie ruik en so titseltjie van die en daai ingooi!! Dis kuns….. En ek vat so slukkie wyn… en sif die meel… ‘n tisteltjie kaneel…. bietjie neut… gee ‘n wye rondomtalie voor ek die vars tamatie sommer so hap gee, dat die sous by my mond afloop!! 😆

    Boervrou? Ek weet nie of ek as so iets sal deurgaan nie, bietjie weird die kant…. 11 uur in die oggend kook en bak.. natuurlik, die behoefte om met bestandele te speel vra nie tyd nie…. selfs 11 uur in die nag!! :mrgreen:

    Voila mooi gedekte tafel en wat is nou lekkerder en mooier!!!

     
  2. Skoor

    April 21, 2009 at 11:34 vm

    M, dis die mooiste beskrywing van hoe mens met kos en kosmaak kan flirt, wat ek in ‘n lang tyd gehoor het!

    Spring aan die bak suster, maak daai huismense se pensies knop, sodat hulle ma altyd die TOP-vrou sal bly!

    Niks fout met ‘n bietjie nostalgie op ‘n Dinsdag nie. Absoluut niks!

    Geniet x

     
  3. Skoor

    April 21, 2009 at 11:35 vm

    Wipneus, ek wou nog vra of jy iets met die draaiboek van 9 1/2 weeks te doen gehad het destyds, maar nou ja, as jy nie het nie, het HULLE seker by JOU tips gevang! 😆

     
  4. Alta

    April 21, 2009 at 3:06 nm

    Klink heerlik. Gaan nou eers die Peppermint tert try.

     
  5. Wipneus!

    April 22, 2009 at 10:01 vm

    Ek het ‘n verhouding met kos Skorie😉 9 1/2 weeks, wag ek moet eers die fliek gaan kyk, dan sal ek jou sê 😆 Miskien moet hulle my betaal, dink jy hulle het my siel gesteel, ek trust juis nie die Hollywood mense nie…. Ek moet tog eendag ‘n inskrywing maak waar ek een van jou resepte uittoets..
    Het jy geweet as ek erg nostalgies en romanties is, kook ek selfs met my vereboa?

    Mens moet kosmaak met passie doen, die lekkerste ding is om ander mense se magies vol te maak, en te sien hoe hulle dit geniet.

    Ek is bietjie af hier…. ek deel liefde uit aan my geliefdes met kos….

    En jy help my baie hiermee😉 Dankie…

     
  6. Skoor

    April 22, 2009 at 10:12 vm

    Oe ek sien dit al….soos ‘n ‘naked chef’, kaalboudjies met net ‘n voorskoot aan, staan die Wip kaal alles met net ‘n vere boa en proe aan ‘n houtlepel terwyl die wimpers verleidelik gefladder word vir ‘n ERG honger manlief!

    Tussen julle staan net sjampanje op ys, en rondom julle het die tyd gaan stilstaan…

    Asseblief, kom se hier as jy daai inskrywing gemaak het, ek wil loop lees wat agter daai mure in daai straat gebeur (het)!

     
  7. Alta

    April 22, 2009 at 4:52 nm

    Skoor, komplimente aan jou!! Flip daai peppermint tert is heeeerlik!!Vinger lek lekker!!!!

     
  8. Pikkelik

    April 23, 2009 at 11:02 vm

    En jou souskluitjies mag jy met trots plaas!!! Dit is heerlik, heerlik, ek het dit alweer Gister gemaak, sommer net omdat dit ‘n vakansiedag was en dit was koud! 😉

     
  9. Skoor

    April 23, 2009 at 11:23 vm

    Dankie Alta & Pikkelik!

    Dis wonderlik om sulke opgewonde terugvoer te kry. Maak die feit dat ek my resepte nie in ‘n boek neerskryf nie, maar op die net neersit en deel, soveel meer die moeite werd.

    (Al is ‘n resepteboek met menshande gevorm iets spesiaals!)

     
  10. boervrou

    Junie 10, 2009 at 6:07 nm

    Nie heeltemal rys, vleis en aartappels nie, maar pampoen, boontjies en vleis. Maak kos voor 12. Pak dit in ‘n “koelsak” en vat dit dan saam, sodat die kinders darem hulle gekookte kossies inkry. Poeding nee. Aandete is dan baie lig, ‘n appel of naartjies. Weet jy hoe min kinders kry deesdae groente in? Party eet nèt Sondae kookkos!! Dis nogal tragies.

     
  11. Skoor

    Junie 10, 2009 at 6:18 nm

    Gee jy jou adres uit? Ek vrek vir pampoen en boontjies. Kan maar sonder die vleis ook wees.

     
  12. Nikita

    Junie 23, 2009 at 12:16 vm

    Ek wil net se, dis nie winter hier nie, maar ek het my kind gemaak souskluitjies maak vir ons vir nagereg vanaand…dit was heerlik, dankie! En toe leer sy sommer van die gesegde…iemand wat kluitjies bak…haha… ons taal is darem ryk hoor!

     
  13. Skoor

    Junie 23, 2009 at 10:23 vm

    Hoe oud is die klein kok??

    Ek moet se, soos die reen nou op die dak neerkletter, sal ek nie omgee vir ‘n bakkie souskluite nie. Al is dit 10:30am….

     
  14. Nikita

    Junie 23, 2009 at 9:17 nm

    Sy’s nie meer “klein” nie, alhoewel ek haar klein wil hou, ‘n plesier om te he!🙂 Sy’s 17 en het vandag ‘n tweeling maats hier gehad (eksamens klaar) en het die lekkerste koekies gebak.. die 2ling (Taiwanees) het nog nooit voorheen in hul lewens koekies gebak nie! (Ma werk in Hong Kong en hulle is saam met die pa hier- hulle het hier dieselfde jaar aangeland wat ons gekom het en so maats geraak, baie oulike 2 kinders en dem slim) en sy’t hulle nou hier laat bak -onder haar “bekwame” leiding🙂 – sy bak -en-brou al sedert haar 8ste verjaarsdag toe ek haar ‘n maklike manier geleer het om muffins te maak! en kan sy bak! die koekies is op! (maats het van dit saam huistoe ook) en sy’t belowe om more weer te bak. sal jou die resep stuur.

     
  15. Johan

    Mei 10, 2010 at 3:07 vm

    Ek sit hier in Los Angeles en het nou die soudkluite gemaak. dit was heerlik. Baie dankie

     
  16. Skoor

    Mei 10, 2010 at 11:06 vm

    Groete uit die deel van die wereld vir jou in die verre, Johan. Mag jy nog reseppies kry wat jou maag sal vul en jou verlange minder sal maak!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: