As die dae begin korter raak, en die veld is nat in die oggend as jy gaan stap, dan begin die nostalgie ook hiberneer in jou binneste (jy moet bo 35 wees om dit ten volle te kan beleef)
Dan onthou jy die warm somers, en die koel Oros binne-in ‘n huis waar die gordyne getrek was om die ellendige hitte net bietjie teen die bors te stuit voor die gordyne weer teen laatmiddag oopgetrek is, om die baldadige agtermiddag in te nooi.
So ‘n huis was tannie AnnaUys se huis in Paul Krugerstraat, Stellenbosch. Maar by Oros het dit nie gebly nie. Sy het nogal reageer op ‘n altyd-honger skoolkind se blik na die blik op die kas (ma het ons geleer om NOOIT te vra nie, en ons het wragtag ook nie, maar die oe kon nie lieg nie)
Dan haal sy daardie vaal, lang blik (vroegere jare se roomys blik, so is ek maak verstaan) van die kas af, en ordentlik geleerde stadige bewegings handjies glip in die blik om ‘n beskuit uit te lig en met die Oros te geniet. En ‘n tweede, en ‘n derde. Tannie AnnaUys het ons maar laat begaan. En daar was altyd van daai beskuit in die huis. Nee dankie vir koekies, koek, tert. Asseblief vir die beskuit.
‘n Tyd gelede begin ek soek na tannie AnnaUys se beskuit resep. Almal van daai generasie is al oorlede, en ek kom met ‘n ompad by die resep uit. Ek kry dit van ver oorsee waar dit teen die hart van ‘n kind van die ma, veilig gehou is.
Dankie vir die deel daarvan. Die wat tannie AnnaUys kan onthou, en ooit die resep wou kry – hier’s hy. Al smaak dit nottehel soos hoe sy dit gebak het. Ek het nie dieselfde geduld en liefde in my hande nie. Maar ek probeer!
ALL BRAN BESKUIT
Trek ‘n kom nader – moenie hier kom lol met klein mengbakkies nie, jy GAAN mors en vies raak. Keer ‘n 1kg pak bruismeel in die kom om, en gooi toe met 300g All Bran Flakes.
Sprinkel 1eetlepel bakpoeier oor die All bran, en ‘n teelepel sout.
Roer die spul deurmekaar en hark nog ‘n bak nader wat in die mikrogolf kan pas. Smelt 500g botter in die bak, en laat afkoel. Klits 3 eiers, 250g suiker en 750ml karringmelk bymekaar. Voeg die botter by die eiers, suiker en karringmelk en roer.
Gooi nat by droog en meng goed deur met ‘n sterk houtlepel. Ja, jou arms gaan lam raak. Roer! As die mengsel te droog is, gooi die res van die karringmelk (jy het mos 2 x 500ml houertjies gekoop?) bietjie vir bietjie by.
Spuit of smeer broodpanne. Ek het 3 pannetjies gevul met my mengsel.
Druk in die oond wat jy aan die BEGIN van die resep al moes aangeskakel het (ja!) en bak vir 45minute tot 60minute. Druk ‘n bamboes stokkie daarin. As hy skoon uitkom, is die beskuit gaar. Moenie ‘n sushi stok indruk nie. Dit sal lyk of ‘n mol deur jou beskuit is. Sosatie stokkie werk die beste.
Keer op ‘n draadrak uit en laat afkoel. Moenie nuuskierig soos ek wees en begin sny as die brode nog half warm is nie…dit gaan breek.
Pak op die oondrakke, en droog oornag uit.
Laat afkoel, vul jou grend beskuitblikke, en STOFSUIG DIE OOND voor jy more lasagne bak en die krummels vlam vat of jou kos na brand laat smaak!
Charl Marais
Mei 7, 2012 at 1:06 nm
Interressant dat ek daardie selfde resep by Tannie Mable gekry het, so omtrent ‘n jaar terug. Sy het ook ‘n paar variasies daarop wat glo saam met die oorspronklike resep gekom het. Jy kan in plaas van die Allbran wheetbix gebruik wat jy eerst stukkend druk of as jy bietjie hardlywig voel vervang jy dit met skoon spysverterings semels. Die karringmelk kan met maas vervang word. Jy kan ook allerhande dinge by sit soos ‘n paar hande vol neute of grondboontjies of rosyne, sultanas, gesnipperde droe vrugte of daai versuikerde lemoenskil stukkies wat in vrugtekoek gebruik word.
Dit smaak elke keer vorentoe.
Lekker bak.
Skoor
Mei 8, 2012 at 12:43 nm
Charl, ek het die beskuit geproe. Dit kort semels. Baie daarvan. Ek gaan weer probeer…
En meer suiker as jy ‘n soeter beskuit verkies.
Skoor
Mei 7, 2012 at 3:41 nm
Hi Charl – die resep bied plek vir ‘n vuis vol rosyne ook, en ek dink ‘n koppie semels kan dalk net die sake aanhelp – ek hou nie van goete in beskuit nie, maar mens kan sekerlik mal gaan met gedroogte vrugte ens. Ek gaan tog die wheetbix probeer!
Charl Marais
Mei 7, 2012 at 3:44 nm
My vrou het so 2 weke terug emt die Wheetbix gebak en dit was net so lekker. Net ‘n week toe het die kinders alles spoorloos laat verdwyn. Krummels en al!
marga
Oktober 9, 2012 at 3:10 nm
Dit was snaaks. LOL. Sal dit nou maar moet bak en probeer vir die beskuit-liefhebber wat ek self is.
Skoor
Mei 7, 2012 at 4:02 nm
Gits, jou kinders eet stadig! 😆
alsona elstadt
Julie 2, 2012 at 8:52 nm
Mal oor jou blog, het op kovsies amper n swart growwe beskuit beleef, het al molassa probeer. Het jy n voortel om growwe beskuit n donker donkerbruin kleur te gee?
Charl Marais
Julie 3, 2012 at 8:39 vm
Baie keer word koffie gebruik om brood donker te kleur, byvoorbeeld “Pumpernickel” brood. Ek is seker dit kan met beskuit ook werk. So 2 teelepels op hierdie resep hoort die ding te doen. Maak net seker jy gebruik die fyn poeier tipe en nie korrels nie want die korrels soek hitte om op te los en meng dus moeilik in die deeg in, behalwe as jy die korrels eers in bietjie kook water oplos. Onthou net om dan die kookwater in te reken by die vloeistof wat in jou deeg gaan sodat dit nie die deeg te slap maak nie.
Linda van Reenen
Desember 13, 2012 at 3:55 vm
Dis nou interessant. Ek het net vandag die resep probeer, dit staan bekend as Huisgenoot Prize Rusks.Ek bly nou in Texas en daar het ‘n paar van my goed in die Vrystaat agtergebly, soos my kombuisskaal. Ek het ‘n 2.27kg pak self-raising gekoop en sommer geraai hoeveel 1.5 kg is. Ek het een boks raisen bran en een boks honey crunch cereal ingegooi.Dis besig om uit te droog en smaak heerlik! Dis my Kersgeskenk aan my seun hierdie jaar. Hy is met ‘n amerikaner getroud en sy het ook al geleer om beskuit te bak 🙂
Enid
November 9, 2013 at 5:42 nm
Dag sê hier van Alaska!
Wonderlik om weer Afrikaans te lees. Winter is hier, en my besluit bak is leeg. Wie kan help met ‘n volgraan resep, kan nie wit meel, wit suiker, wit rys gebruik nie
sussan
Junie 7, 2014 at 12:27 nm
Dog dis altyd winter in Alaska?…van ons sonnige Margate in Rsa bibber ek altyd wanneer ons na tv programme oor Alaska kyk…..
crossforge
November 11, 2013 at 7:53 vm
Probeer hierdie een.
LUDERITZ BROOD:
Bestandele:
Vier koppies Bokomo Wheaty Treat of vier koppies Nutty Weat.(Enige volgraan meel sal doen.)
‘n Kwart koppie sesame saad.
‘n Kwart koppie sonneblomsaad.
‘n Kwart koppie lynsaad.
Een eetlepel olie.
Een eetlepel bruin-suiker. (Dis nou daai sagte een, partykeer noem hulle dit molasse suiker)
Drie klein teelepels sout.
Een pakkie kits suurdeeg.
Metode:
Meng al die bestandele saam. Voeg twee en ‘n halwe koppies lou warm water by. Meng goed en gooi in ‘n voorafgesmeerde broodpannetjie. Plaas in ‘n vooraf verhitte oond by 100°C vir 35 – 40 minute om dit te laat rys. Verhoog dan die temperatuur na 180°C en bak vir
een uur. Laat staan vir ‘n paar minute en keer dan uit op ‘n koel-rak.
As jy dit nou vir beskuit wil maak dan maak jy net die suiker meer. So drie eetlepels is vir my reg maar as jy dit soeter verkies kan jy tot so 5 eetlepels gaan met die suiker.
Die resep pas in ‘n 25cm broodpan. Sou voorstel jy maak die resep dubbel vir 2 panne anders eet jy dit in een dag op.
Skoor
Desember 10, 2013 at 8:21 vm
Dankie julle almal vir die bydraes hier bo. Lekker bak!
crossforge
Desember 10, 2013 at 8:43 vm
Dankie, en lekker bak gaan ek gewis. My buite bakoond het ek klaar gebou. Hierdie vakansie gaan hy werk. Pizza, brood, beskuit, lamsboud, groente. Die vakansie kook ons buite.
Skoor
November 21, 2016 at 4:39 nm
beduie om by jou te kom vir dai ete… my skoorsteen het omgeneuk. moet nog inspring, of eerder OPSPRING op die bakoond dak en red en herstel.