Somertyd.
Buite eet tyd. Braai tyd. Wyndrink tyd…
As jy nou ‘n vleisie op die kole het en wonder wat jy sou kon bedien anders as ‘n heerlike gekookte baba aartappel of 6, dan is die resep nou net die ding.
Kook gou die aartappels net voor jy die vuur aansteek. Baba aartappels, of die moeder, opgesny in baba grootte blokkies.
Net as dit amper sag is, gooi jy die water af, en steek die vuur aan. Gryp ‘n wok of paella pan, met baaaaaie olyf olie in, en sit hom eenkant op die rooster. As die eerste kooltjies verskyn, skuif jy hulle ewe onder die pan in, en laat daai olie bietjie warmer word as jy, na ‘n gym sessie.
Gooi die aartappels in, en met ‘n houtlepel kielie jy hulle rond en bont in die pan. Loer oor die buurvrou se muur, en as sy roosmaryn aan haar kant het, knyp jy ‘n stuk met die braaitang af, en gooi dit net so by die aartappels dat die geure bietjie pret het in daai pan. As die aartappels lekker goud-bruin is, is die kole ook reg om te braai. Skuif die pan bietjie opsy, en gee aandag om die vleis gaar te kry.
Net voor jy opdien kan jy nou heel oorboord gaan en ‘n lepel songedroogte tamaties (dies in sous) inroer, of ‘n wilde klomp basil pesto (meer vir die knoffel as enigiets anders) en dit deurroer en gou weer op die kole sit vir hitte.
Eet gaan jy eet – dis ‘n belofte.
jongds
Desember 6, 2012 at 11:25 vm
Ag tog, as ek die maar gisteraand gelees het. Baie dankie gaan dit beslis die naweek probeer.
Skoor
Februarie 14, 2013 at 11:38 vm
Hey – elke aand sal ook te min wees, want jy kan nogal mal gaan met byvoegings…