Nonsens praat sal ek nie. Hierdie gereg is een van daais wat jou soos Nigella al laat terugneuk yskas toe vir nog ‘n teelepel vol.
Hoenderborsies. Sommer klaar ontbeen oor ek heel hopeloos te lui is, en by die tyd wat ek kook, so moerig honger is, ek sal my vingers ontbeen, of omdat iemand my aandag aftrek (wat dit meer verdien as die pot kos, maar hey, mens kan nie van liefde alleen lewe nie…)
Sny hulle regtig kleinerig op. Blokkies.
Braai ‘n groot ui, ook fyn gesny, en ‘n pakkie spek tot mooi bruin. Gooi ‘n koppie rys in die pot en roer deur. Die vet van die bacon dans om die ryskorrels soos ‘n haan om ‘n mooi hen, en die geure is te lekker om nou verder te dink hoe die hoender gelyk het voor hy hier in die styrofoam bakkie langs jou le!
Gooi kookwater op, en die rys begin dans. En borrel. En bruis. Dis mooi. Sit die deksel op en sny die hoenderborsies klaar (al twee van hulle – ek neem aan jy sny stadig, of die mes is stomp)
Nou klits jy die hoenderborsie blokkies by die rys in, en draai die vlam onder die pot stadiger. Baie stadiger. Als moet nou grappies maak in daai pot, terwyl jy grappies maak met wie ookal by jou is. Of wyndrink voor die kaggel.
As daai rys lekker gaar en sag en uitgepof is, is die hoender verseker ook gaar. Opsie is om ‘n klein pakkie vries groente of erte in te gooi en so in die hitte te laat deurwarm word. Kirts-kirts kan hulle maar, niemand is nog oorle’ van semi-gaar groente nie.
Neem een van tannie Ina Paarman se pakkies KOLJANDER PESTO, en meng soveel jy wil, in die gereg. Proe vir sout en peper, en voeg by na smaak.
Gaan sit met jou geliefde en die res van die bottel wyn en eet tot julle omval!