RSS

Oondgeroosterde tamaties vir die fles

26 Aug

As jou tamatiebosse kreun onder die oes aan sy takke, stap met ‘n voorskoot jou tuin in, neem die punte bymekaar, en pluk die sonryp bessies tot jou hande meer na tamatie ruik as die bos haarself.

Gaan sit langbeen in die son, met ‘n oondbak neffens jou en sny al die tamaties half. As die bak bolbek staan van die tamaties, girts jy pienk sout (dis blykbaar gesonder, en nogal vrek sexy teenoor die leliewit soute wat jou ouderwets aanstaar) oor hulle, gevolg deur ‘n handvol takkies tiemie, en ‘n tak of twee roosmaryn. Die olyf olie wat jy op bystand het vir oomblikke soos hierdie, is nou nodig. Dans met die druppels tussen die vruggies rond, en laat dit mildelik plons in die oondbak.

Braai ‘n handpalm vol koljander korrels tot bruin, en gee hulle so ‘n parmantige drukkie sommer met ‘n glas se bodem – net so om die korrel te kraak, en gooi oor die tamaties.

Druk vir bak in die oond by 90 grade celcius – jip, dis laag. Baie laag. Maar nou moet dinge gebeur met hierdie tamaties, en die geure moet trou en die suikers in die vrugte moet soeter.

Jy kan gaan middagslapie vat, of wimpers wip vir jou ongetroude buurman met die parmantige baardjie (dis mos nou mode, en ooooooo so mooi as die jong manne in hulle stywe broekies, groot-man oor die straat stap!) en hoop hy nooi jou vir wyn en what not.IMG-20130825-00537

Maar voor jy dink aan Volksvermeerdering en wat daarmee gepaard gaan, maak gou een deel asyn, een deel heuning en 2 dele olyf olie aan. 

Girts goeie swartpeper daarin, soveel soos wat jy wil.  Trek ‘n hele handvol tiemieblare van hulle takkies af, en meng in by die sous. Proe haar.  Jy soek ‘n soet-suur kombinasie wat jou mond mal maak van lekkertes.  Gooi sommer ‘n bietjie chillivlokkies ook by. So vir die avontuurlustige in jou.

In jou huis sal knoffel wees, die varses, ons gaan nie weer hieroor praat nie, en jy sny ‘n huisie baie klein, dun snytjies. Dis net baie meer sensueel om na te kyk as die ou boring chopped garlic en dit spreek vir my altyd so van mildelikheid, knoffel wat gesny is en wat nog soos knoffel lyk as jy ‘n puzzle sou wou pak met al die dele sigbaar.

Gaan tog nou maar na die buurman, maar oor 2 ure beduie jy vir hom jy wil gou kom poeding haal, jys nou glad honger ge-watookal!  En dan maak jy die poeding vir julle, maar kyk eers gou of die tamaties al sag en sappig le. Indien hulle hier en daar begin lyk soos frommel lyfies, is hulle reg. Sit af die oond en vat tog die poeding langsaan.

As jy egter ‘n bloutjie geloop het met jou bure, of die ou lelik bles is met bak-ore en in die eg verbind, en jy maar eerder gele en lees het vir die afgelope 2 tot 3 ure, skep jy nou die tamaties versigtig in die silwerskoon flesse wat jy aanhou vir jou sexy ingemaaktes.  Haal maar die takkies kruies uit.  Die is nou sekerlik onsmaaklik vermink deur die hitte van die oond.

Moet nognie die pansous ook bygooi nie.  Gee eers jou eie sous ‘n beurt en as daar nog plek is in die fles, gooi die tamatie sappies uit die oondbak by die res in die fles.  Onthou, olie gaan le bo, so moet nou nie bekommer daaroor nie.  

Tik-tik die toe fles so ‘n bietjie dat die lugborrels boontoe en kan uit.  Draai nog stywer toe en vergeet van haar vir so ‘n week, sodat daai smake een kan word.

Eet op bruschetta, op roereiers, op kaasborde uitgestal of in slaai.  Pastasous!  Eenvoudig met spaghetti ingeroer en parmasaankaas bo-oor drappeer.  In hierdie aartappel gereg (kliek op die gekleurde woord en land op die resep!)

Aag is dit vir my nodig om te vertel hoe om te eet? Sit dit net in die yskas na jy dit die eerste keer oopgemaak het.  Dis nou te se as daar iets oorbly…

Solank jy blinkbek en knoppens anderkant uitkom, is my missie geslaagd!

 
3 Kommentaar

Posted by op Augustus 26, 2013 in Lekker maklike kos

 

3 responses to “Oondgeroosterde tamaties vir die fles

  1. Leonie

    Desember 19, 2013 at 2:47 nm

    Ag nee man met die lees van hierdie resep voel ek soos baba wat tande kry…mmmmm laat die mond water. So spyt ek het my hierin begewe nou gaan die lus my rondjaag tot die rooiryp vruggies hul lê gekry het.

     
  2. Frik Lombard

    Julie 30, 2014 at 7:39 vm

    Mal oor jou Kos werf. Het ingeteken daarop. Sal jou naam byvoeg op my lys van gereelde blogs. Dit is my idee om al die Afrikaanse resepte webwerwe saam te bring en saam te laat werk.

     
  3. Toortsie

    Oktober 21, 2014 at 9:36 vm

    Hierdie gaan ek ook maak. Sjoe dit klink lekker

     

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: