Die aande is loom. Die lig skyn anders in die deel van Februarie. Asof die aarde die herfs met bedel-arms wil nader lok!
Ek gaan dit een keer hier neertik, en jy kan daarmee maak wat jy wil. Ag jouself gelukkig om in die binnekring van behoorlikheid toegelaat te word.
Jy neem jou steak, hetsy sirloin, rump, t-bone, fillet of club en gooi dit in ‘n ziplock sakkie. Van daai wat kan toe zirts. Die sterk soort.
Kry ‘n vars suurlemoen – steel, koop, bedel, maar vars is nogal ‘n noodsaaklikheid en sny dit deur. Druk die sap in die sakkie, gevolg deur ‘n half-koppie olyf olie, en ‘n paar skeute Worcestershire sous.
Beduie die vleis in die sak met die sap en olie, en gaan gooi in die yskas as jy meeste van die lug uit die sak het, en hom weer stewig toe het.
3 dae. 3 dae minimum. 5 dae is beter. Draai elke dag daai steak in die yskas. Laat die olie en suurlemoen lekker dans.
Haal uit 3 ure voor jy braai – maak hom kamer temperatuur. Vir die absolute windgatte onder ons, rasper ‘n medium uit, en gooi die rasperstukkies in daai sakkie en woel hom deur sodat die geur kan mals raak wyl die steak sy kamertemperatuur gaan word.
Gooi daai steak op WARM kole. Medium – 5 minute ONAANGERAAK een kant, wyl anderkant sy sout en peper kry, dan 5 minute onaangeraak die ander kant, wyl die gat-in-die-lug kant gesoutenpeper word.
3 minute weer terug op die duskant, 2 minute op die ander kant, en haal af om vir 5 minute te rus.
Jou medium to rare – 3 minute per kant warm kole en moenie met die knyptang rondspeel en die vleis druk en streel of lig en skuif nie. Loop speel met jouself as jy verveeld is. Skaak of solitaire of so.
En as die vlamme onder sy ribbes kom sizzle, dans ‘n dans my maat – dis nou eers lekker as hy so braai – dan maak jy jou buurman genadeloos jaloers. En die vetjies raak so krisp…
Vertel my of dit lekker was met die groen slaai wat jy jou maat laat maak het wyl jy sweet om die vuur!
Ter nagedagtenis: moet nou in jimmilsnaam nie met allerhande steak souse en twak loop neuk by die vleis nie. Dit kan jy doen as jy gaan uiteet en die donkievleis wil verdoesel. Jy het mos bees gekoop, eet hom van sy ma af.
poerdez
November 29, 2016 at 3:15 nm
Lekker!!
nvdw1809
November 29, 2016 at 5:20 nm
Man maar dit klink lekker. Gaan hom definitief probeer!
Charl Marais
November 30, 2016 at 7:45 vm
Sies. Maak jy my nou so honger en ek moet VYF dae wag voor ek dit kan eet. Dink ek gaan ‘n jalapeno saam in daai sakkie sit.
Skoor
November 30, 2016 at 8:13 vm
More Charl. Dis die geheim – tydsaam. In my yskas le ‘n gemsbok fillet onder rooiwyn en toorgoed – 4 weke en dan kan ek hom hang – ‘n heilsame italjaanse bresaola aan’t kom.
En dan is daar die steaks vir vanaand! Verseker ‘n jala, maar dan ‘n vars huisie knoffel ook ingerasper. Mensig.
Geniet hom nvdw1809!!!
thetinlady
Desember 5, 2016 at 10:19 vm
Klink na my tipe stukkie vleis…. maar sal vir die 3 minute of korter gaan. Hou van myne rare na blue.