RSS

Author Archives: Skoor

Hoenderlewers

Livi is skielik anemies verklaar en moet yster inneem.  Nou Skoor is grootgemaak sonder die inname van organe, en ek weet lewer is ‘n uitstekende bron van yster. As mens die slim mense kan glo!

Sit dan in die agtermiddag slentergang van die son en wonder hoe ek die lewers in haar gaan kry sonder om te moet proe aan my poging, en sonder dat sy enamel toe hol vir verligting.

PeriPeri chicken livers.  Klink soos daai destydse garnaal kelkie. Afgesaag en afgeleef en boooooring.

Smaak kliere, verbeelding en kop begin werk, en ek dink my poging het demits goed uitgewerk.  Probeer gerus.chicken-livers1

Ontvries en kyk dat al die senings en goed af van die lewers is. Was af en sit neer op ‘n skuins snyplank dat die ernstige waters kan afloop.  Sny ‘n groot ui in kleinerige blokkies en braai tot mooi bruin.  Sny ‘n GROOT huis knoffel op, en gooi in, gevolg deur ‘n koppie rooiwyn.  Draai die plaat bietjie laer en laat die rooiwyn wegkook tot half die hoeveelheid.  Gooi ‘n teelepel crushed chilies en ‘n halfteelepel cayenne in die rooiwyn en ui potjie.

Sodra daai wyn minder is as netnou, gooi jy ‘n koppie ONGEGEURDE BULGAARSE YOGHURT by en roer mooi deur.  Ook ‘n bietjie sout vir balans.  En dan ‘n teelepeltjie suiker.

Steek jou vingerpunte in meel, en gooi so woes en wild ‘n paar korrels meel oor die lewers.  Nie asof swaar sneeu geval het nie, net so ‘n ligte kapok.  Knerts sout en swartpeper oor die lewers, en maak olie lekker warm in ‘n plat pan.  Vat die lewers na die warm pan, en sit een vir een in, verkieslik meel kant onder.  *** As die olie skiet, moenie terug skiet nie, wonder net hoekom jou voorskoot nie aan is nie!

Die spul sal borrel en bruis en lekker kuier.  MOENIE die lewers omdraai of deur roer nie.  Sodra die lewers begin verkleur aan die bo-kant, haal die souspot af van sy warm plek, en gooi die sous oor die lewers in die pan.  Hy prut weer?  Dan sit sy deksel op, en sit die hitte af. So vir 10 minute. Dan mag jy dit sag deur roer en proe of die sout reg is.

Dek die tafel sexy en roep die Livi nader – bedien die lewers en sous op rys en gooi sommer vars fyngekapte pietersielie uit jou tuin by.  Kyk diep in mekaar se oe, en hoop vir ‘n styging in yster telling.  Op die ou end het ek die sous geproe en was bitter gelukkig met die poging, en het selfs ‘n halwe lewertjie geneem. En ek leef vandag nog. En ek dink my yster is oukei.plum

 

*** op hierdie stadium het ek ‘n paar vars rooi pruime in blokkies gesny en by die lewers gesit.  dit maak vir ‘n wonderlike verandering en smaak, en sexy bediening!

 

 
6 Kommentaar

Posted by op Januarie 17, 2017 in Lekker maklike kos

 

Steak. Biefstuk. Geen grappies.

Ek gaan dit een keer hier neertik, en jy kan daarmee maak wat jy wil.steak_1718547b-large_trans++qVzuuqpFlyLIwiB6NTmJwZwVSIA7rSIkPn18jgFKEo0.jpg

Jy neem jou sirloin, rump, t-bone, fillet of club en gooi dit in ‘n ziplock sakkie. Van daai wat kan toe zirts.

Dan vat jy ‘n suurlemoen, sny in 2 en druk die sap in die sakkie, met ook soveel olyf olie.

Beduie die vleis in die sak die sap en olie, en gaan gooi in die yskas as jy meeste van die lug uit die sak het, en hom weer stewig toe het.

3 dae. 3 dae minimum. 5 dae is beter. Draai elke dag daai steak in die yskas.  Laat die olie en suurlemoen lekker dans.

Haal uit 2 ure voor jy braai – maak hom kamer temperatuur.  Gooi daai steak op WARM kole. Medium – 5 minute ONAANGERAAK een kant, wyl anderkant sy sout en peper kry, dan 5 minute onaangeraak die ander kant, wyl die gat-in-die-lug kant gesoutenpeper word. 

3 minute weer terug op die duskant, 2 minute op die ander kant, en haal af om vir 5 minute te rus.grilled-marinated-flank-steak-horiz-640.jpg

Jou medium to rare – 3 minute per kant warm kole en moenie met die knyptang rondspeel en die vleis druk en streel of lig en skuif nie. Loop speel met jouself as jy verveeld is. Skaak of solitaire of so.

En as die vlamme onder sy ribbes kom sizzle, dans ‘n dans my maat – dis nou eers lekker as hy so braai – dan maak jy jou buurman genadeloos jaloers.  En die vetjies raak so krisp…

Vertel my of dit lekker was met die groen slaai wat jy jou maat laat maak het wyl jy sweet om die vuur!

Ter nagedagtenis:  moet nou in jimmilsnaam nie met allerhande steak souse en twak loop neuk by die vleis nie. Dit kan jy doen as jy gaan uiteet en die donkievleis wil verdoesel. Jy het mos bees gekoop, eet hom van sy ma af. 

 
5 Kommentaar

Posted by op November 29, 2016 in Lekker maklike kos

 

Sout en Peper so by my KOOL

Blomkool raak onbekostigbaar duur. Die Boere smaail, want die oes kan gouer af, die aanvraag is GROOOOOT. Want die banters donir die hele landbougemeenskap rond.  Aartappels is van die bose, broccoli is die ding met sy oompie blomkool. En tot ‘n pizza basis bestaan uit die goed nou se dae.

Toe koop ek maar ‘n kool.  As jy kool sny sit die hele bleddie plek vol kool.  Jou kombuis lappie frommel en draai aan ‘n sliert fyn kool, maar heellaas moet die vingers maar oppik.

Wees dus nou maar soos ek, en neem ‘n behoorlike skerp mes, en begin sny daai kop kool in fyn slierte. Maar net ‘n halwe kop vir nou. Die res maak jy koolslaai more mee. En sukkel om die gevalle slierte op te pik.cabbagea.jpg

In ‘n lekker pot gooi jy olie, en verbruin ‘n ui op sy tyd.  Gooi bietjie sout by sy ribbes, die water word vrygestel en karamelisering vind gouer plaas – vertel die mense op TV vir my – eks  nie self so slim nie.

Sny ‘n pak spek in fyn stukkies.  Gooi by die ui en nou werk jy die sake tot daai spek sommer gladnie meer vaal is nie.  

Gooi ‘n koppie kookwater oor die inhoud, staan net met jou gesig weg of jou bril wasem op, en jou poriee ruik more nog na ui!

Draai die hitte heelwat laer en gooi ‘n groot aartappel se waarde in blokkies, by die lekker ruiktes.

Nou beduie jy daai kool die pot in.  Vat ‘n skeut sout en ‘n goeie knarts swartpeper.  Sit die deksel op.  

Loop slaan jy 3 knoffelhuisies dat hulle onderklere afkom, sny in dun skyfies, en lig die deksel om die knoffel tuis se maak met die bredie.

‘n Paar hoofstukke in jou boek verder, en die deksel kan gelig word.  Roer sag deur, proe vir sout en peper, voeg nog by, en skep om te sit met ‘n wye uitdrukking in jou oe wat lyk na dankbaarheid vir potte, maar eintlik dankbaarheid vir ‘n Boer is!

As jy Skoor se liefie is, gooi jy nog sommer ‘n stuk egte botter ook in die pot voor jy opskep.  Dis ‘n Duitse ding word ek vertel. 

Ek dink eerder, solank DIE Boervrou kook, sal tot ‘n Duitser eet.

 
8 Kommentaar

Posted by op Augustus 25, 2016 in Lekker maklike kos

 

Tamatie en Brandrissie Olie – natuurlik op ‘n vuur

O moenie huil nie. O moenie treur nie.

Die resep het niks met bobbejane te doen nie, maar met die feit dat dit somer word, en as jy nuwe liefde het, kan jou hart bollemakiesies maak en jy kan dalk weer lus raak vir kook. Plat op jou gat voor ‘n lae vuurtjie, met ‘n koue glas wyn, en sagte oe anderkant die vlamme wat jou dophou.

Die is deelkos. Mekaar-voer-kos.

Neem daai Wok wat jy gekoop het toe al wat mens daarin wou maak, stirfry was. Gooi hom op die vuur. Jimmil, die lewe is te kort om te skrik vir potte en panne op ‘n vuur.

Bederf daai pan met ten minste ‘n koppie olyf olie. Maar as jy mildelik van hart, in lig van voet is, gooi nog!  Natuurlik neem jy nou die handvol vars knoffel wat jy sommer so rofweg in skywe gesny het. Indien jy enige ander knoffel in gedagte het, staak onmiddelik om my woorde met jou oe te gryp. Loop Steers toegarmato en gaan eet ‘n slegte burger.

VARS KNOFFEL dus. Sommer so 5 of 6 of 8 huisies. Die lewe is kort. Doen dit met oorgawe. As jy eet moet jou mond blink.

Gooi die knoffel in die olie, en skelm gooi jy ‘n rooi chili in as jou hande nie dopgehou word nie. Dit lyk mooi in die vlamme en dans saam met die gesnyde knoffel tot die olie deurtrek is met die geur, maar die knoffel nognie begin verkleur het nie. Dit moet net sag gebraai wees in die olie voor jy dit versigtig met ‘n lepel uitlig en eenkant sit. 2 blikkies tamaties moet nou in die olie ingegly word. Pasop vir brand met die olie!

As jy Skoor is en tyd het, gooi 2 of 3 pakkies cherry tomatoes in die olie, eerder as gebliktes. Vryf en jaag die tamaties met jou ouma se houtlepel tot hulle gaar en laf skitter in die pan. Van hulle is velloos, ander ruk harte oop en ontbloot guitig die pitte. 

Hardloop huis-in en gaan haal ‘n vuis growwe sout, skeut varsgekraakte swartpeper en ‘n lepel hoog-hoog van heuning. Meng als deur – ook die knoffel en brandrissie – en neem die pan die huis in. Belowe jou geliefde jys nou-nou terug. 

Neem jou blitz ding. Daai met die vinnige lem. En slaan daai pitte en velle en olie en knoffel en brandrissie en alles anders tot ‘n pienk sous (dit gebeur spontaan met die lug en emulsifisering van die bestanddele) – onthou net dit spat, so gooi in ‘n dieper pot of houer voor jy dit doen.

Gooi terug in die Wok en proe of daar genoeg sout in is. Staan effe terug en voel of die brandrissie jou tong soen. Ja? Gryp ‘n ciabata onder jou arm, die Wok in jou hand en gaan breek brood saam. Voer mekaar diepgedoopte souserige brood. Skink nog wyn. Celebrate die liefde. En as jy wil sweet…. gooi cayenne peper by as die brandrissie ‘n pissie was – die is ‘n familie blad…

– Be Blessed! 

 
8 Kommentaar

Posted by op Oktober 14, 2014 in Lekker maklike kos

 

Oondgeroosterde tamaties vir die fles

As jou tamatiebosse kreun onder die oes aan sy takke, stap met ‘n voorskoot jou tuin in, neem die punte bymekaar, en pluk die sonryp bessies tot jou hande meer na tamatie ruik as die bos haarself.

Gaan sit langbeen in die son, met ‘n oondbak neffens jou en sny al die tamaties half. As die bak bolbek staan van die tamaties, girts jy pienk sout (dis blykbaar gesonder, en nogal vrek sexy teenoor die leliewit soute wat jou ouderwets aanstaar) oor hulle, gevolg deur ‘n handvol takkies tiemie, en ‘n tak of twee roosmaryn. Die olyf olie wat jy op bystand het vir oomblikke soos hierdie, is nou nodig. Dans met die druppels tussen die vruggies rond, en laat dit mildelik plons in die oondbak.

Braai ‘n handpalm vol koljander korrels tot bruin, en gee hulle so ‘n parmantige drukkie sommer met ‘n glas se bodem – net so om die korrel te kraak, en gooi oor die tamaties.

Druk vir bak in die oond by 90 grade celcius – jip, dis laag. Baie laag. Maar nou moet dinge gebeur met hierdie tamaties, en die geure moet trou en die suikers in die vrugte moet soeter.

Jy kan gaan middagslapie vat, of wimpers wip vir jou ongetroude buurman met die parmantige baardjie (dis mos nou mode, en ooooooo so mooi as die jong manne in hulle stywe broekies, groot-man oor die straat stap!) en hoop hy nooi jou vir wyn en what not.IMG-20130825-00537

Maar voor jy dink aan Volksvermeerdering en wat daarmee gepaard gaan, maak gou een deel asyn, een deel heuning en 2 dele olyf olie aan. 

Girts goeie swartpeper daarin, soveel soos wat jy wil.  Trek ‘n hele handvol tiemieblare van hulle takkies af, en meng in by die sous. Proe haar.  Jy soek ‘n soet-suur kombinasie wat jou mond mal maak van lekkertes.  Gooi sommer ‘n bietjie chillivlokkies ook by. So vir die avontuurlustige in jou.

In jou huis sal knoffel wees, die varses, ons gaan nie weer hieroor praat nie, en jy sny ‘n huisie baie klein, dun snytjies. Dis net baie meer sensueel om na te kyk as die ou boring chopped garlic en dit spreek vir my altyd so van mildelikheid, knoffel wat gesny is en wat nog soos knoffel lyk as jy ‘n puzzle sou wou pak met al die dele sigbaar.

Gaan tog nou maar na die buurman, maar oor 2 ure beduie jy vir hom jy wil gou kom poeding haal, jys nou glad honger ge-watookal!  En dan maak jy die poeding vir julle, maar kyk eers gou of die tamaties al sag en sappig le. Indien hulle hier en daar begin lyk soos frommel lyfies, is hulle reg. Sit af die oond en vat tog die poeding langsaan.

As jy egter ‘n bloutjie geloop het met jou bure, of die ou lelik bles is met bak-ore en in die eg verbind, en jy maar eerder gele en lees het vir die afgelope 2 tot 3 ure, skep jy nou die tamaties versigtig in die silwerskoon flesse wat jy aanhou vir jou sexy ingemaaktes.  Haal maar die takkies kruies uit.  Die is nou sekerlik onsmaaklik vermink deur die hitte van die oond.

Moet nognie die pansous ook bygooi nie.  Gee eers jou eie sous ‘n beurt en as daar nog plek is in die fles, gooi die tamatie sappies uit die oondbak by die res in die fles.  Onthou, olie gaan le bo, so moet nou nie bekommer daaroor nie.  

Tik-tik die toe fles so ‘n bietjie dat die lugborrels boontoe en kan uit.  Draai nog stywer toe en vergeet van haar vir so ‘n week, sodat daai smake een kan word.

Eet op bruschetta, op roereiers, op kaasborde uitgestal of in slaai.  Pastasous!  Eenvoudig met spaghetti ingeroer en parmasaankaas bo-oor drappeer.  In hierdie aartappel gereg (kliek op die gekleurde woord en land op die resep!)

Aag is dit vir my nodig om te vertel hoe om te eet? Sit dit net in die yskas na jy dit die eerste keer oopgemaak het.  Dis nou te se as daar iets oorbly…

Solank jy blinkbek en knoppens anderkant uitkom, is my missie geslaagd!

 
3 Kommentaar

Posted by op Augustus 26, 2013 in Lekker maklike kos

 

Hoender, Rys en Koljander pesto

Nonsens praat sal ek nie.  Hierdie gereg is een van daais wat jou soos Nigella al laat terugneuk yskas toe vir nog ‘n teelepel vol.

Hoenderborsies.  Sommer klaar ontbeen oor ek heel hopeloos te lui is, en by die tyd wat ek kook, so moerig honger is, ek sal my vingers ontbeen, of omdat iemand my aandag aftrek (wat dit meer verdien as die pot kos, maar hey, mens kan nie van liefde alleen lewe nie…)

Sny hulle regtig kleinerig op.  Blokkies.chic

Braai ‘n groot ui, ook fyn gesny, en ‘n pakkie spek tot mooi bruin.  Gooi ‘n koppie rys in die pot en roer deur.  Die vet van die bacon dans om die ryskorrels soos ‘n haan om ‘n mooi hen, en die geure is te lekker om nou verder te dink hoe die hoender gelyk het voor hy hier in die styrofoam bakkie langs jou le!

Gooi kookwater op, en die rys begin dans.  En borrel.  En bruis.  Dis mooi.  Sit die deksel op en sny die hoenderborsies klaar (al twee van hulle – ek neem aan jy sny stadig, of die mes is stomp)

Nou klits jy die hoenderborsie blokkies by die rys in, en draai die vlam onder die pot stadiger.  Baie stadiger.  Als moet nou grappies maak in daai pot, terwyl jy grappies maak met wie ookal by jou is.  Of wyndrink voor die kaggel.

As daai rys lekker gaar en sag en uitgepof is, is die hoender verseker ook gaar.  Opsie is om ‘n klein pakkie vries groente of erte in te gooi en so in die hitte te laat deurwarm word.  Kirts-kirts kan hulle maar, niemand is nog oorle’ van semi-gaar groente nie.  

Neem een van tannie Ina Paarman se pakkies KOLJANDER PESTO, en meng soveel jy wil, in die gereg.  Proe vir sout en peper, en voeg by na smaak.

Gaan sit met jou geliefde en die res van die bottel wyn en eet tot julle omval!

 
Lewer kommentaar

Posted by op Junie 14, 2013 in Lekker maklike kos

 

Varknek. Maar op die kole.

varknekOk, my eerste probeerslag was perfek, maar gisteraand was ek effe haastig, en toe trek my kole my ‘n streep en vark moes oond toe wyl die volgende sarsie kole gereed gemaak is.

Vark is droog.  Jip.  Maar NIE die ot nie.  Mits jy dit reg doen.

Koop ‘n ontbeende vark nek.  En ‘butterfly’ hom dat jy so 5cm MINIMUM dikte het.

Nou is die truuk…. STOOM die nek vir 40 minute.  In jou Steam Supreme, of jou dubbele pasta pot, of op ‘n rak in ‘n pot met bietjie water onder-in.  Maak plan.  Die gestoom maak die vleis nie gaar nie, maar deurwarm, wat help met die gaarmaak proses.  Gits, die dae van spierwit doodgekookte vark is sekerlik saam met ander dinge taboe, so ons eksperimenteer te lekker – asb, ek se nie eet rou vark nie, die vleis is deurgaar, maar NIE doodgedroog vrek bokkoms gebraai nie.

En dan vat jy ‘n groot, en ek meen GROOT huis knoffel.  En jy rasper of kap of vysel en stamper vir haar in gebraaide nekonherkenbare dele.  Gevolg deur so ‘n duim vars gemmer.  En ‘n goeie skeut soya sous, en meer as ‘n goeie skeut heuning.  Roer en roer die spul bymekaar tot die heuning opgelos is.  Gooi so ‘n eetlepel of 2 water ook by.

Die kole is mos nou al reg, ne…. Nou sit maar vir nek mooi saggies op die rooster, en gooi sout en peper.  Nie te veel – die soya sous is mos sout.  As dit dikker as 5cm is, kan jy sout en peper gooi.  Andersins kan die soya sous dalk genoeg wees.

Neem jou kwassie, en streel die sous oor die nek.  Draai om, en streel die sous oor die nek.  Die hele braai proses deur.  Teen die einde van die braai is die nek mooi bruin soos die heuning karamel getan het.  Vir die waaghalsige smaakpapil, smeer nou die hele nek met mosterd en braai vir oulaas aan beide kante.

Laat die ot rus voor jy dit baie dun snye sny, en bedien met kapok aartappels en gebraaide uie en ‘n sout sousie, of lekker soet pampoen, of sommer ‘n wulpse groenslaai.  En more het jy weer kos – jy sny dit mos dun.

 
1 Kommentaar

Posted by op Februarie 14, 2013 in Lekker maklike kos