RSS

Category Archives: Skoor kook oor!

Smoorsnoek

Ek koop sommer ‘n vries snoek by ons kooperasie – dis so R25 per kilo in die jaar 2011, en jy voed nogal baie monde met ‘n slaai daarby.

Met die orige snoek het jy egter ‘n heel ander dis wat roep om gemaak te word… SMOORSNOEK.

Vat dit nou maar eenmaal van my, en dis hoekom jy nie hier mates en metodes aantref nie – hierdie resep is ‘n moerby van ‘n paar bestanddele, en ‘n knoppens van ‘n ander kleur!

Sny ‘n ui.  As jy nie bang is vir uie nie, sny 2.  Half, en daai halwes sny jy klein halfringe.  Braai in olyf olie, botter of sonneblom olie.  Jou keuse.  As ui wil-wil bruin word, gooi jy aartappel blokkies by en roer deur.  

Geskat, 2/3 aartappel, 1/3 snoek.  Makliker – 2 koppies aartappel blokkies, 1 koppie snoek.  Gevolg deur kookwater wat die blokkies nie heeltemal bedek nie – draai sommer die stoof kleiner, dat dit staaaaadig deurgaar word sonder om te breek.

Daai snoek is natuurlik ONTNEEM van enige grate, en klein gebreek, of gevlok soos dit in die volksmond bekend staan.

Neem ‘n stewige groen rissie (die chilli soort) en sny in wieletjies en gooi in die aartappel pot.  Sout en swartpeper die spulletjie, en as die aartappel wil-wil deurgaar word, gooi jy die vis bo-op en wag 5 minute voor jy dit deur roer.

Bedien met ‘n groenslaai langsaan.  Of op ‘n sny brood.  Sorg net dat daar genoeg is!  Min is onvoldoende.

Advertisements
 
8 Kommentaar

Posted by op Oktober 14, 2011 in Skoor kook oor!

 

Toffie Appels

Die kind in sommige van ons, soos XP, vra vanoggend vir ‘n toffie appel waarop ‘n stopsel uitgebyt kan word, of waarin ‘n stel valstande ewe parmantig kan agterbly!

Sit af groentewinkel toe, en koop 15 appels (want die bure se kinders gaan ook wil he as jy krul van die maagpyn en hulle dit fassinerend vind)

En natuurlik 15 stokkies.  Sosatiestokkies, roomys stokkies, enige stokkie wat daai suiker bal gaan kan regop hou in jou hand.

Was die appels, droog af, en druk die stokkies in waar die stingels op ‘n tyd was.

Neem 2 koppies suiker en 190ml water, en los die suiker daarin op.  Natuurlik in ‘n kastrol op die stoof met die plaat aan.  0.5ml sout en 125ml gouestroop daarby, en jy kan staan en roer met jou ma se houtlepel waarmee jy so lekker pak gekry het in die dae toe kinders nog kon pak kry.

Nou toets jy daai stroop as die dinge begin warm word (so by die 140 grade celcius) – gooi ‘n druppeltjie in ‘n glas water, en as die stropie kraak, is dit gereed om die appels te omhels!

Gooi ‘n skeutjie kleursel van jou keuse by, meng deur en doop die appels in die sous.  Kantel die pot dat jy maklik alles kan bedek.

Laat die ergste stroop afdrup, en sit stokkies in die lug neer op gesmeerde waspapier sodat hulle kan hard word.

Wat meer kan ek seg?  Breek ‘n tand??  Mors voort??  Ek kan nie onthou wanneer ek laas ‘n toffie appel vasgebyt het nie.  Miskien IS dit weer tyd om kind te word.

Boonop het die boere ons ondersteuning nodig – gaan dadelik en koop ‘n sakkie katballetjie appeltjies by Fruit & Veg.  Die varkkos word mos deesdae verpak en ten duurste verkoop.  Skande!  Ek gaan nie begin deur te vertel hoeveel die arme produseerder aan die einde van die dag kry vir daardie albastertjies wat die winkels ryk maak nie…

 
11 Kommentaar

Posted by op Augustus 16, 2010 in Skoor kook oor!

 

Brie en Bessies

Ek eet met my oe.

En as ‘n bessie uitdagend op ‘n stuk kaas kom flirt, is ek sommer dadelik rasend van die honger!

Gryp ‘n brie of cammembert kaas uit die yskas – so ‘n uur voor jy die gevriesde bessies uit die vrieskas haal.

Die kaas moet so drup en loop en praat met jou spoegkliere as jy dit deursny.

Neem ‘n pan, en gooi ‘n handvol bessies per eter in.  ‘n Groot lepel heuning oor die bessies, en al wat kort is die hitte wat die bessies moet ontvries en deurwarm maak.

Skep die bessies bo-op die kaas, en bedien met koue borrel-wyn.  Voorgereg, nagereg, enige gereg.  Ek is nie hier om vir jou te vertel nie, ek stuur jou net in die regte rigting…

Die bessies sal jy vind in die winkel se vrieskaste – neffens die roomyse.  En as daar nie is nie, kan jy altyd jou stem dikmaak en aandring daarop.

 
6 Kommentaar

Posted by op Maart 29, 2010 in Lekker maklike kos, Skoor kook oor!

 

Beesvleis in die bakoond

Raait, my bakoond is 80% klaar, en ek kon nie ‘n dag langer as Saterdag wag om die eerste vuur te stook nie!

‘n Aartappel gereg (ala Skoorlief) en ‘n degie van Spar (jajaja) in bolletjies gerol (en vol fyn knoffel, hoe dan anders) was die eerste oefen geregte.

Gister was egter ‘n bees van ‘n ander smaak…  Ek het ‘n blok bees – daai ‘roast’ vleis wat jy in die winkel koop – in blokkies opgesny, en ‘n ontluikende jong man in die huis aangespoor om kulliner met die oggend te verkeer.  Die beesvleis blokkies, so 3cm grootte, is eers in meel gerol, en dan in ‘n emalje pot geseel en effe verbruin. 

Alles kan nie gelyktydig in die pot ingaan nie, daarom verg dit geduld en konsentrasie.  Veral as die warm olie in die pot jou al op die arms raps.  Om vleis te seel en te verbruin moet jy die bietjies-bietjies doen, anders begin dit kook ipv braai.

Wanneer al die vleis deurgewerk en gaarder as rou is, neem jy ‘n handvol piekel uitjies en gooi hulle in die pot.  Rol hulle rond sodat die buurt wonder of ‘n nuwe restaurant in die omgewing oopgemaak het.  Ons doen hierdie dinge sommer buite, so die buurt is gereeld aan’t wonder. 

Gooi ‘n halfbottel rooiwyn by die uitjies in die pot, en ‘deglaze’ die bodem van die pot.  Gooi die vleis terug by die wyn, en pak aartappels, seldery en wortels bo-op die vleis.  En vars knoffel.  Baie.

Indien jy ‘n bakoond het, druk jy die pot in die warm oond, en maak hom toe vir 3 ure.  Ek kon nie.  Ek het elke half-uur gaan loer.  Dis te lekker.  En te nuut om net so te los.  Na 3 ure neem jy ‘n pakkie tamatie pasta en laat dit in die sous drup.  Keer versigtig die inhoud om, sodat die groente ook sous kan kry.

Sout en peper na smaak.  Sit terug in die oond.  Nog ‘n uur.  Gooi 3 teelepels suiker oor, meng versigtig deur en bedien op basmatie rys.

As jy net ‘n oond met lektriek het – 180 grade celcius behoort te werk.

En enige ander groente.  Besluit wat jy wil proe.  En ertjies!

(Hierdie is spesifiek probeer met die Wosonki’s in gedagte – dis ‘n alternatief vir die ingilse potroast)

 
16 Kommentaar

Posted by op Februarie 1, 2010 in Skoor kook oor!

 

Nood-leer-Bak Broodjie

Pikkie los die ander dag ‘n comment in die vorm van ‘n resep.  En met die nodige toestemming plaas ek dit vir die Sondagaand wat jy besef die skoolbrood wat jy Vrydag gekoop het, is muf, en daar is nie muffins om in die kosblikke te sit nie.

  • Skorie, ek moet jou vergas met my ‘Nood leer planne maak’ broodjie… Ook sommer so vir die mikrogolf

Bestanddele:
2 koppies bruismeel
2 desertlepels olie
corn2 eiers
2 eetlepels suiker
1 groot blik suikermielies
paprika

Metode:
1 Berei mikrogolf-broodpan (of sommer ‘n langwerpige glasbak) voor en sprinkel paprika teen kante en op bodem.
2 Meng bruismeel, olie, geklitste eiers en suiker.
3 Voeg suikermielies by.
4 Gooi in pan en sprinkel paprika bo-oor.
5 Mikrogolf 9 minute by defrost en 6 minute by Hi

 
14 Kommentaar

Posted by op Oktober 19, 2009 in Skoor kook oor!

 

Mikrogolf Koek

Ek is ‘n self-verklaarde nie-bakker.  Kook ja, potte en potte lekker kos.  Maar bak maak my senuweeagtig, en my spasie is te min vir afmetings, sif en knie.

Daarom verwelkom ek altyd maklike resepte wat dalk kon lyk asof dit tyd kon vat, en meet, sif en klits betrokke was.  En wat ek in my klein ko’buisie kan aanmekaarslaan.

Meng 1koppie meel, 1 koppe suiker, 2 eiers, 2 teelepels bakpoeier, 1 koppie kookwater, 3 eetlepels kakao, 1 eetlepel mayonnaise en ‘n 1/4 teelepel sout saam.micro

Gooi in ‘n mikro bak of mikro koekvorm, en bak op hoog vir 7-8 minute.

Versier soos jy daarvoor lus het, of dit nou bedek met ‘n dekandente gesmelte sjokolade sous is, of versiersuiker, onthou net om nie skaam te wees daarmee nie.

Let wel – as jy ‘n wit koek wil bak, vervang die kakao met maizena.

 
17 Kommentaar

Posted by op Oktober 6, 2009 in Skoor kook oor!

 

Kaaskoek

kaaskoekMy ma is vreeslik oor kaaskoek in ‘n restaurant eet.  Maar dan MOET dit ‘n gebakte kaaskoek wees.  Die drilsels wat restaurante soms vir R30 ‘n stukkie voorsit, wat gou in 5 minute uit ‘n boks saamgeflans is, steek haar dwars in die krop.

Hier is ‘n resep vir ‘n vinnige gebakte een, sonder groot omslagtigheid of sweetdruppels.

Breek ** ‘n 300g pakkie tennisbeskuitjies (hoekom is dit Tennisbeskuitjies genoem?), en meng met 250g gesmelte margarien.  Druk dit onder-in ‘n oondvaste bakding vas as kors.

Klits 400g suiker, 400g roomkaas, 250ml room, 6 eiers en 10ml vanilje geursel saam, tot die suiker opgelos is. 

Skep dit bo-oor die kors, en bak vir 15 minute teen 180 grade celcius, OF 25 minute teen 150 grade celcius.

** as jy neute of koekies of iets dergliks moet fyn kry, gooi dit in ‘n sakkie, en le in met ‘n wynbottel.  Dit is die gouste, en skoonste manier.

 
5 Kommentaar

Posted by op Julie 30, 2009 in Skoor kook oor!