RSS

Tuna op my Brood

Tuna blikkies raak nou so vrek duur, mens kan netsowel ‘n behoorlike maaltyd daarvan maak as jy dan ‘n blikkie moet oopsny.  In my huis dink ek nog net aan tuna, of een van die 4 katte pak ‘n psalm uit.  Horrible!

Hol ‘n draai om die katte, en gaan pluk ‘n vars greenpepper in jou tuin (jy het mos greenpeppers in jou tuin, dan nie?).  Sny hom, en ‘n ui, in ewe groot blokkies.  Soos in klein blokkies.  Moenie kortpad vat nie – jy gaan sit en knaag aan onverfynde, on-seksie uie!

Teen die tyd is die katte weg omdat die ma staan en tjank met ‘n ui in die hand, so jy kan die tuna blikkie oopsny.  Voeg mayo by – soveel soos jy van hou.  En dan gelyke hoeveelhede ui en greenpepper.

Meng lekker deur en sit op jou gunsteling broodjie.  En as dit goewermentsbrood is – daai verbeeldinglose bruin brood – ai tog!  Daar is volkoring brood vir ‘n paar sente ekstra, en mensig, dis heerlik.

Sit met ‘n koppie tee agteroor, en raak weg in die see van tuna, mayo, en knarsgroentetjies.

 
3 Kommentaar

Posted by op April 23, 2012 in Lekker maklike kos

 

Smoorsnoek

Ek koop sommer ‘n vries snoek by ons kooperasie – dis so R25 per kilo in die jaar 2011, en jy voed nogal baie monde met ‘n slaai daarby.

Met die orige snoek het jy egter ‘n heel ander dis wat roep om gemaak te word… SMOORSNOEK.

Vat dit nou maar eenmaal van my, en dis hoekom jy nie hier mates en metodes aantref nie – hierdie resep is ‘n moerby van ‘n paar bestanddele, en ‘n knoppens van ‘n ander kleur!

Sny ‘n ui.  As jy nie bang is vir uie nie, sny 2.  Half, en daai halwes sny jy klein halfringe.  Braai in olyf olie, botter of sonneblom olie.  Jou keuse.  As ui wil-wil bruin word, gooi jy aartappel blokkies by en roer deur.  

Geskat, 2/3 aartappel, 1/3 snoek.  Makliker – 2 koppies aartappel blokkies, 1 koppie snoek.  Gevolg deur kookwater wat die blokkies nie heeltemal bedek nie – draai sommer die stoof kleiner, dat dit staaaaadig deurgaar word sonder om te breek.

Daai snoek is natuurlik ONTNEEM van enige grate, en klein gebreek, of gevlok soos dit in die volksmond bekend staan.

Neem ‘n stewige groen rissie (die chilli soort) en sny in wieletjies en gooi in die aartappel pot.  Sout en swartpeper die spulletjie, en as die aartappel wil-wil deurgaar word, gooi jy die vis bo-op en wag 5 minute voor jy dit deur roer.

Bedien met ‘n groenslaai langsaan.  Of op ‘n sny brood.  Sorg net dat daar genoeg is!  Min is onvoldoende.

 
8 Kommentaar

Posted by op Oktober 14, 2011 in Skoor kook oor!

 

Ertjiesop

Dis winter.  Ek hou nie van waterige sop nie.  Behalwe as dit Thai is met baaaaie lemongrass.  Mmmm.  Maar ertjiesop en boontjiesop is koning in die Boervrou se hart.

Ertjiesop is so gou, jy wou nog TV kyk, toe is die kos klaar.

Gryp ‘n groot ui.  Sny hom rowwe blokke, gooi in ‘n pot met bietjie olie, en braai tot die ui glasig is.  Gooi lekker fyn knoffel, VARS natuurlik, ook in, gevolg deur 3 naeltjies en ‘n goeie draai of nege, swartpeper.

Neem baie varkspek, varkblokkies, of varkrib, en sny dit op.  Lekker bytgrootte stukkies.  Braai dit lekker tussen die uie tot jy hoor jou TV program se kenwysie speel.  Gooi die uitgesoekte en gewaste ertjies in die pot, roer deur, en gooi ten minste 2l kookwater op.  Dis nou ‘n winkelpakkie ertjies.  Soveel.

Seel die pot as dit ‘n drukkoker is.  As dit ‘n gewone pot is, moet jy in die advertensiebreuke kom kyk dat die sop nie oorkook nie.

As die drukkoker volstoom bereik het, gee jy die pot so 30 minute maksimum na jy die hitte afgedraai het, en as jy daar oopmaak roer jy mooi deur.  Gooi sout in na smaak, water na gelang van hoe dik jy dit wil eet, en laat dit weer deurborrel voor jy opskep.

Lekker eet!

Gooi aartappels en wortels ook in as jy lus het vir moeite en ekstra geur.  Niks daarmee verkeerd nie.


 
9 Kommentaar

Posted by op Mei 30, 2011 in Lekker maklike kos

 

Beesvleis gebak

Vriend Marius Maritz ini dorp anderkant die berge, het een Sondag met sorg die resep voorberei.  Maar Skoor vat graag kortpaaie, daarom sit ek my weergawe hier neer – roer jou litte, sit af winkel toe, en maak jou mense glimlag vanaand!

Jy koop ‘n stuk beef roast.  Neem ‘n skerp mes, en maak hom ekstra skerp, en sny dun skywe van die homp af.  Hoe dunner, hoe beter.  Kry daai moerhamertjie agter in die laai uit, daai waarmee ons mense in die 80’s so ewe al wat vleis is, pap gekap het, en moker elke bladsy vleis tot dit ‘n groter bladsy is.  Ja, dis die meat tenderizer hamer.  En as jy joune al weggemaak het, gebruik ‘n kleinbordjie se kant, en kap vriend, kap!

Sny ‘n groot ui in ringe.  Neem ‘n oondskottel en bespuit haar met daai nie-vassit-spuit, en pak die uieringe onder-in.  Sit ‘n enkel laag vleis bladsye bo-op die uie, en gee sout en peper na smaak.

Sny ‘n bakkie sampioene in rowwe skywe, en gooi oor die eerste laag vleis, gevolg deur nog ‘n laag vleis bladsye (sout en peper weer)

Dreineer ‘n blik gekapte tamaties, en bou die volgende laag daarmee.  As jou oondbak hoog is, kan jy lekker speel met groen, geel en rooi pepers ook.  Solank jy die vleis sout en peper gee.  En chillievlokkies as jy lus het vir vurigheid.

Bedek die bak met tinfoelie, en druk in ‘n 200 grade celcius oond.  Myne het die eerste 2 ure buite in die bakoond deurgebring, wat dit een hemelse geur besorg het, maar die gewone oond sal ook werk.

Maak nou ‘n witsous terwyl die oond met die kos toor.  Na ‘n uur gooi jy die witsous oor die gereg, en laat ‘n hoekie van die tinfoelie opgelig, sodat die oortollige vloeistof pad uit kan kry.  Draai die oond af na 180 grade celcius.

Vir die derde uur kan jy die gereg se tinfoelie jas afhaal, en hom dophou dat hy nie verbrand nie.

Bedien met ‘n vars slaai.  Kraakvars.  En as daar more oorskiet is, eet dit koud!

 
Lewer kommentaar

Posted by op April 13, 2011 in Lekker maklike kos

 

Mmmm, maak daar ‘n drankie!

Februarie.  Die maand van liefde.  En ook die maand waar mens se voete gou sleep en die hitte jou hare vaal maak.

Daarom is jy onder bevel:  gaan huis toe vanmiddag, en sorg dat jy ‘n lang, mooi, sexy glas neem met ‘n halwe hand peperment blare uit jou tuin. Gooi dit onder-in die glas, en ‘n teelepel suiker op die blare, en neem die agterkant van ‘n houtlepel en kielie bietjie die blare met die suiker al in die ribbes tot hulle geur vrystel.

Gooi ‘n hand-vol ys in die crusher, en maak heerlike crushed ice.  Geknersde ys.  Nou gooi jy ‘n skeut vodka op die blare, en ys tot by die glas se bek.

Gebruik ‘n suurlemoen-basis drankie met gas – die W winkel het lekker lemon, lime & bitters mengsel.  Dis perfek.  Of jy sodastream vir jou soda, en gooi ‘n skeut suurlemoen sap in die glas, gevolg deur die soda.

Roep jou lief nader.  Kyk mekaar diep in die oe.  Klink ‘n glasie somervog.  En die res gaan ek nie hier aanbeveel nie.  Dis ‘n resepte blog!

Ja, dit is amper ‘n mojito, maar ons is lig op die suiker hier, en gladnie skaam met die vodka nie!

En as jy nie peperment in jou tuin het nie – gaan steel vanaand ‘n plantjie by die buurman – ment groei soos onkruid, en veral in die somer is dit heerlik, al drink jy net ‘n glas yswater met ‘n blaar of 3 in.

 
6 Kommentaar

Posted by op Februarie 22, 2011 in Lekker maklike kos

 

Verplukte vark / Pulled Pork ala SA

Amerikaners hou van alles in oordaad.  Hulle sal my hele nageregte vir een jaar, in EEN maal inwerk – alles opgetop met ‘n sous of ‘n handjie neute.  Hulle is luid en eet hulle kos ook so dat ek wonder of hulle ooit iets kan proe!

Sien ek noudie aand hoe hulle pulled pork maak – maar doodgegooi met barbekeeuw sous en ek voel hoe koes my smaak kliere vir al die bymiddels.  Net daar besluit ek om die SA weergawe aan te pak.  Ek maak my verplukte vark, en gee die hordes kos.  Vergeet dus ‘n oomblik van die vervelige varktjop!

Trek jou lui vinger uit jou oor, sit af slagter toe (ek vra sommer oor die slagters toonbank by my naaste Spar) en kry ‘n vark blad.

Sny die vel en die vet af met ‘n skerp mes.  In een stuk.  Voila!  Neem growwe sout, en sout die onder- en bo-kant van die blad.  Waar die yanks nou bottels souse gebruik, doen ons dit met ‘n handpalm vol sous.  Enige braaisous.  Ek het die Jack Daniels ene gebruik, en ek weet Heintz maak ‘n lekker een wat heel rokerig proe.  Vryf die sous in die vark, en sit die vel en vet wat afgesny is, terug.

Sit in ‘n oonvaste bak of oondskottel.  Sny ‘n groen appel in skyfies, en gooi neffens die blad.  Dan neem jy ‘n bottel cider, en keer dit so al om die blad se einders uit.  Moenie bo-oor gooi nie, dan spoel jy al jou moeite af.

Bedek met tinfoelie.  Sommer so 2 lae.  En druk in die oond teen 100 grade celcius vir 12 ure.  Jip.  Oornag.  Jip.  Lekker lank!

Na 12 ure maak jy daai saggekookte lekkerte oop, en begin met 2 vurke die vleis ‘skeur’.  Dit sal soos fynvleis lyk.

I.p.v. om nou soos die yanks NOG ‘n bottel sous te gaan uitkeer oor hierdie vleis, en dit in ‘n bun te prop met koolslaai bo-op (jip!!!), neem jy van die kooksous en meng dit lekker deur die verplukte vark. 

Nou neem jy ‘n lekker vars bun, met hope blare op, en parkeer ‘n hopie vark op die broodjie.  Tamaties en komkommer is ook nie te versmaai nie – dis immers ‘n burger van ‘n soort.  Jy sal eet tot jy voel soos die trop!

Die oorskiet kan vries.  En bedien word op rys of kapok aartappels.  Of in ‘n pasta.  Maar hierdie sawwe varkvleisies gaan jou nog lank bybly.

 
2 Kommentaar

Posted by op Januarie 17, 2011 in Lekker maklike kos

 

Daai tamatieboontjies uit die Kombuis

Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap en op die eerste warmste dag van die lente/somer oorgang in die Kaap, die bakoond opgestart om my tamatieboontjies te probeer.  Ja, ek oorweeg ook om myself te laat toets vir breinskade!

Daar is 3 maniere waaraan ek nou sommer vinnig kan dink, nee, 4, om hierdie dis gaar te maak, so luigeit sal jou enigste verskoning kan wees.  En julle wat nie kan kosmaak nie, kan tog seker blikkies oopmaak??

Week die bone wat jy wil gebruik oornag in water.  Of gebruik blikkies bone.  Een blikkie bone per eter.  Een blikkie fyn tamaties per 2 eters.  1 Pakkie tamatiepasta per 2 eters.

Neem ‘n groot wortel, en rasper haar sommer.  Klere en al.  Trek net die skoene uit en haal die pruik af.  En was die stof van haar lyf.  Neem ‘n seldery stingel en sny in klein blokkies.  Neem ‘n ui, en sny ook klein.  Gooi in ‘n pot met olyfolie op die bodem.  Gooi bo-op die bone, gevolg deur die tamaties en -pasta, asook ‘n goeie klomp knoffel.  Vars natuurlik.  Uit die huis gejaag en met ‘n mes bygekom.

Neem ‘n koppie groente aftreksel (droog of vars) en bedek die pot se inhoud. 

Druk in ‘n 180 grade celcius oond vir 2-3 ure.  Sit op die stoof en kook vir 2 ure.  Druk dit in die bakoond vir 2-3 ure.  OF…. maak dit in jou driebeenpot buite op die vuur soos met potjiekos!

Hoe dit ookal sy, kry die bone stadig gaar.  As die bone reeds gaar was, kry die tamaties gaar en die sous dikker en ryker en rooier.  Dis nogal stadige kos met min moeite!  Kyk net dat die pot nie brand op die stoof nie.

Net voor dit afgehaal moet word, gooi jy ‘n handvol vars tiemie in, geur met sout en peper, en natuurlik ‘n teelepel suiker om die tamaties se zing net terug te klits in sy kassie.

Eet dit net so.  Of met parmesaan kaas oor (dis verspot lekker).  Of as die bone al die aftreksel en souse opgeslurp het, en daar is lekker min sous, maar baie geur, kan jy dit op mash of pasta bedien.  Of met braaivleis.  Die opsies is eindeloos.  Moet ek dit alles uitspel?

Die brawes onder ons…gooi ‘n birdseye chilli reg aan die begin by.  Moet hom nie weer soek nie – jy sal hom nie kry nie.

Die is nogal lae GI, en dis net proteiene, vir dies wat op daardie dieet is.

ONTHOU:  ‘n BEHOORLIKE TAMATIE DIS, SE TAMATIES MOET SOMMER KOOK SODAT DIE GEURE KAN ONTWIKKEL SOOS ‘n DONKER MISTERIEUSE ROOIWYN.  TJOEF-TJAF WERK NIE VIR ‘n TAMATIESOUS WAARMEE JY WIL IMPRESS NIE!  En jy hoef nie altyd geblikte tamaties te gebruik nie.  Vars tamaties werk net so goed.

 
10 Kommentaar

Posted by op November 16, 2010 in Lekker maklike kos

 

Nog ‘n hoender vir more se ete

Vanaand se hoender is more eers in die maag. 

Lekker vir ‘n koue ete met slaaie, of om uit te pluis vir ‘n pastei of hoender en mayo broodjies of om sommer net te kyk of die resep kan werk.

Sit jou Boerebenoudheid in jou sak, skud jou lokke reg, en begin met ‘n groot pot waarin jou heel hoender gemaklik kan le.  As jy dit pote en al insit, wees sterk.  Ek koop winkel hoender, en dink as ek sal moet begin slag, raak ek eerder ‘n plantetende dier!

Hoender in die pot?  Skeut ‘n handvol sout, skeut ‘n handvol suiker in.  Sap van ‘n suurlemoen hierby.  Nou slaan jy ‘n stuk gemmer so lank soos jou duim lekker stukkend, en ‘n hele 3 huise knoffel, ook fyngevoeter, hierby in.  ‘n Paar stukke lemongras, baie fyn geslaan, en ‘n paar naeltjies en ster anys knoesel, en jy is amper daar…

Nou vat jy kraanwater, bedek die hoender, en sit hitte onder die pot se stert.  Bring die water tot kookpunt met die deksel AF.  As die water om daai hoender dans soos dolfyne wat sardyne bestorm, dan tel jy tot by 1800 (of stel sommer net die horlosie vir 30 minute) en DAN SIT JY DIE STOOF AF, en sit die deksel OP.

Gaan klim in die bed, en more oggend haal jy vir hoender uit die koue water, sit haar in ‘n roomys bak, en in die yskas, en vanaand kom sit jy allerhande slaaisels om haar lyf neer, en bedien met ‘n growwe brood.  Of jy gaan mal en bak hoenderpastei of maak ‘n pasta met hoendervleisies (maar jy gaan al die sappige geure mis hoor)

Eet jou eerste hoender dus met so min moontlik sterk bykosse, sodat jy kan proe hoe lekker so ‘n kiep kan wees.  En sterkte met die pote as jy dit voetstoots gekook het!

Onthou dat jy die hoender se water kan gebruik as hoender aftreksel – sorg net dat jy die kruie en speserye verwyder.  En kook iets wat nie te veel gaan bodder as dit ‘n ligte tintsel van lemongrass op die tong gaan he nie!

 
3 Kommentaar

Posted by op Augustus 30, 2010 in Lekker maklike kos

 

Toffie Appels

Die kind in sommige van ons, soos XP, vra vanoggend vir ‘n toffie appel waarop ‘n stopsel uitgebyt kan word, of waarin ‘n stel valstande ewe parmantig kan agterbly!

Sit af groentewinkel toe, en koop 15 appels (want die bure se kinders gaan ook wil he as jy krul van die maagpyn en hulle dit fassinerend vind)

En natuurlik 15 stokkies.  Sosatiestokkies, roomys stokkies, enige stokkie wat daai suiker bal gaan kan regop hou in jou hand.

Was die appels, droog af, en druk die stokkies in waar die stingels op ‘n tyd was.

Neem 2 koppies suiker en 190ml water, en los die suiker daarin op.  Natuurlik in ‘n kastrol op die stoof met die plaat aan.  0.5ml sout en 125ml gouestroop daarby, en jy kan staan en roer met jou ma se houtlepel waarmee jy so lekker pak gekry het in die dae toe kinders nog kon pak kry.

Nou toets jy daai stroop as die dinge begin warm word (so by die 140 grade celcius) – gooi ‘n druppeltjie in ‘n glas water, en as die stropie kraak, is dit gereed om die appels te omhels!

Gooi ‘n skeutjie kleursel van jou keuse by, meng deur en doop die appels in die sous.  Kantel die pot dat jy maklik alles kan bedek.

Laat die ergste stroop afdrup, en sit stokkies in die lug neer op gesmeerde waspapier sodat hulle kan hard word.

Wat meer kan ek seg?  Breek ‘n tand??  Mors voort??  Ek kan nie onthou wanneer ek laas ‘n toffie appel vasgebyt het nie.  Miskien IS dit weer tyd om kind te word.

Boonop het die boere ons ondersteuning nodig – gaan dadelik en koop ‘n sakkie katballetjie appeltjies by Fruit & Veg.  Die varkkos word mos deesdae verpak en ten duurste verkoop.  Skande!  Ek gaan nie begin deur te vertel hoeveel die arme produseerder aan die einde van die dag kry vir daardie albastertjies wat die winkels ryk maak nie…

 
11 Kommentaar

Posted by op Augustus 16, 2010 in Skoor kook oor!

 

Refried Beans – laag in GI

As jy genoodsaak word om die lae GI dieet te volg, wissel die bone af met bone!

Jare terug het ek refried beans gehad in ‘n restaurant, maar hulle maak dit nie meer nie.  Daarom wend ek myself tot myself, en hier volg my eie weergawe van die immergewilde refried beans.

Neem ‘n blikkie bone, red kidneys of enige ander donker boon.  Spoel die bonesous af, en verhit olyf olie in ‘n pan.  Gooi die bone in, en druk fyner met ‘n houtlepel.  ‘n Knippie chillievlokkies en ‘n fyngerasperde huisie knoffel in die pan, en roer is al wat oorbly.  Die idee van refried beans is om dit droog te kook.  Die bone teen die kant, maak ‘n droe randjie.  Dis perfek.  Roer dit in, en hou aan tot daar lekker droe stukkies tussen-in is.

Geur met sout en peper na smaak.

Eet net so, of eet dit in tacos of toegerol in ‘n wrap saam met gerasperde kaas en tamatie. 

Hierdie resep is ook beskikbaar op sommige winkels se rakke – in ‘n blikkie, teen meer as R30 stuk!  Wragtag ‘n daglig diefstal poging.  Fyn boontjies, ingevoer van oorsee.  Jy kan dit dus koop.  As jy geld het om te mors.  Tuisgemaak neem dit egter 10 minute maksimum.  Lekker eet.

 
3 Kommentaar

Posted by op April 30, 2010 in Lekker maklike kos