
Jare terug kry ek by oom Terry Booysen van Suid-Wes ‘n Steam Supreme. En ek stoom dat dit goedgaan. Brand myself ‘n paar keer. Maar groente smaak nooit weer dieselfde nie.
So hou Steam Supreme steeds die pas vol in die huis, en soos met die Vuur Aartappel skrywe, deel ek ‘n manier om braaivleis meer gesond te laat afgaan (yeah right. Skoor jok)
As jy deur jou Fruit & Veg dwaal en van daai pakke mixed veg sien, gryp haar. Dis die vars soort. Gevries sal seker ook werk, maar ek gee geen waarborg nie… Gryp ‘n aartappel of 2 en sorg dat jy uie en VARS knoffel ook insit. Direk na die suiwel rak en versteek ‘n houertjie room ONDER die groentes. Anders voel jy dalk so skuldig oor die room en die tjoklit en die tjips in jou wa, jy gaan sit weer die room terug!
Stoom gou die groentes gaar saam met die kleiner gesnyde aartappels. As jy nie kan stoom nie, kook maar. Dan maak jy presies soos met die vuur aartappels, en sit die wok of paella pan op die kole, en gooi olyf olie in tot dit lekker warm is. Braai gou ‘n handvol gesnyde uie, en dan wikkel jy die aartappels deur die olie tot hulle wil-wil lyk soos ek wil lyk in die somer…. biki bruiner. Nou maak jy die kole baie minder onder die pan, en keer die room halfpad uit. Laat dit dan huwelik hou met die aartappels en uie, en kap die knoffel fyn en gooi in. Dit moet net so liggies gaar prut.
Braai jou vleis en haal af (vleis moet mos RUS vertel die ingilse op tiewie) en dan druk jy ‘n lekker paar moerige kole onder die pan se boude, en keer die groente aan en gooi in. Bietjie sout en peper, roer versigtig deur, anders het jy groente en room sop. Dis nou weereens hier waar ‘n pakkie vars ertjies uit die vrieskas nader gesleep kan word en inkom. Roer deur tot die groente warm is, en die room dikker.
Haal af en eet. Maar eet net genoeg sodat daar BAIE oorbly vir die dag van more. Koud uit die yskas. Proe soos potjiekos, daai gerookte groente! Ok, maak maar warm in die mikro as jy nie van koue kos hou soos ek nie. Die rooksmaak gaan nerens, en die ertjies POP steeds in jou kies!
jagternw1976
Desember 10, 2012 at 2:30 nm
GMF… Klink nogals lekker
Skoor
Februarie 14, 2013 at 11:39 vm
Hoop jyt dit al probeer! Jy weet mos Skoor jok nie.