Livi is skielik anemies verklaar en moet yster inneem. Nou Skoor is grootgemaak sonder die inname van organe, en ek weet lewer is ‘n uitstekende bron van yster. As mens die slim mense kan glo!
Sit dan in die agtermiddag slentergang van die son en wonder hoe ek die lewers in haar gaan kry sonder om te moet proe aan my poging, en sonder dat sy enamel toe hol vir verligting.
PeriPeri chicken livers. Klink soos daai destydse garnaal kelkie. Afgesaag en afgeleef en boooooring.
Smaak kliere, verbeelding en kop begin werk, en ek dink my poging het demits goed uitgewerk. Probeer gerus.
Ontvries en kyk dat al die senings en goed af van die lewers is. Was af en sit neer op ‘n skuins snyplank dat die ernstige waters kan afloop. Sny ‘n groot ui in kleinerige blokkies en braai tot mooi bruin. Sny ‘n GROOT huis knoffel op, en gooi in, gevolg deur ‘n koppie rooiwyn. Draai die plaat bietjie laer en laat die rooiwyn wegkook tot half die hoeveelheid. Gooi ‘n teelepel crushed chilies en ‘n halfteelepel cayenne in die rooiwyn en ui potjie.
Sodra daai wyn minder is as netnou, gooi jy ‘n koppie ONGEGEURDE BULGAARSE YOGHURT by en roer mooi deur. Ook ‘n bietjie sout vir balans. En dan ‘n teelepeltjie suiker.
Steek jou vingerpunte in meel, en gooi so woes en wild ‘n paar korrels meel oor die lewers. Nie asof swaar sneeu geval het nie, net so ‘n ligte kapok. Knerts sout en swartpeper oor die lewers, en maak olie lekker warm in ‘n plat pan. Vat die lewers na die warm pan, en sit een vir een in, verkieslik meel kant onder. *** As die olie skiet, moenie terug skiet nie, wonder net hoekom jou voorskoot nie aan is nie!
Die spul sal borrel en bruis en lekker kuier. MOENIE die lewers omdraai of deur roer nie. Sodra die lewers begin verkleur aan die bo-kant, haal die souspot af van sy warm plek, en gooi die sous oor die lewers in die pan. Hy prut weer? Dan sit sy deksel op, en sit die hitte af. So vir 10 minute. Dan mag jy dit sag deur roer en proe of die sout reg is.
Dek die tafel sexy en roep die Livi nader – bedien die lewers en sous op rys en gooi sommer vars fyngekapte pietersielie uit jou tuin by. Kyk diep in mekaar se oe, en hoop vir ‘n styging in yster telling. Op die ou end het ek die sous geproe en was bitter gelukkig met die poging, en het selfs ‘n halwe lewertjie geneem. En ek leef vandag nog. En ek dink my yster is oukei.
*** op hierdie stadium het ek ‘n paar vars rooi pruime in blokkies gesny en by die lewers gesit. dit maak vir ‘n wonderlike verandering en smaak, en sexy bediening!