RSS

Souse vir pastas

30 Mei

Ek gaan graag na my blog stats, en dan kyk ek watse search engine terms daarop is, want so sien mens hoe vreemdelinge ‘n roete gevolg het om tot by jou blog te kom.

Een van die soeke was na souse vir pasta.  Iets wat agterwee gebly het, tot vandag!

Haal uit die panne, sit aan die voorskoot, en probeer bietjie die lekkertes…

Basiese pasta sous en Arrabiata

Neem vars of geblikte tamaties.  Vars tamaties word in klein blokkies gesny, en met ‘n fyngekapte ui, en ‘n huisie of 3 knoffel, in ‘n pot gesit, en gekook tot gaar, en totdat die mengsel gereduseer en meer gekonsentreerd is (dit beteken die water in die bestanddele het weggekook, en laat ‘n dikkerige mengsel, waarvan die geure meer sterk smaak, agter).  Meng hierby ‘n pakkie tamatiepasta, geur met sout en peper, en jy het jou basiese pastasous.  Kan ook op pizza’s gebruik word vir die basis. 

Gebruik geskeurde basil blare, en roer met die sous deur spaghetti, en bob’s your uncle!  ‘n Raspertjie peccorino of parmesaankaas om dit diepte te gee, en jy’t ‘n wenner.

Vir die warmbloediges onder ons, ‘n teelepel gedroogte chillies is net die ding wat hierde basiese sous in ‘n arrabiata omskep.  Natuurlik is die teelepel net ‘n gedagte – as jy dit wil vererger of versag, jy is die kok, doen so.

 

Spek, rooiwyn en songedroogde tamatie roomsous

Braai gesnyde spek tot bros, en voeg ‘n koppie rooiwyn by.  Nou neem jy van tannie Ina Paarman se songedroogde tamaties in die sousie, daai plastiek pakkies, snipper die tamaties kleiner, en gooi die tamaties EN die sous van die pakkie, by die spek en wyn.  Op ‘n baie lae hitte voeg jy ‘n koppie room (of minder, afhangende van jou bui) by, en roer dit deur.  Laat sous dik word.  Geur met sout en peper, en roer deur die pasta voor opdiening.

 

‘n Student se pasta (as jy deesdae blikkies tuna kan bekostig!)

Ek en ‘n goeie vriendin het hierdie sommige middae aanmekaar geslaan as ek te lui was om huis toe te gaan vir ete, of eenvoudig te lam na die vorige aand se wyn.  Sy het altyd min kos, en baie wyn gehad, maar iewers in die kas was altyd spaghetti en tuna, en daarmee het ons die middagete uur gevul.

Maak ‘n basiese witsous van botter, meel en melk.  Kook oor lae hitte tot gaar, voeg ‘n blikkie gedreineerde tuna in WATER by, ‘n klein bietjie Mrs Ball’s, en roer deur die pasta.  Koningskos!

 

Tamatie, spek en feta sous

Maak die basiese tamatiesous, en braai spek en fyngesnyde groenrissie repies in ‘n aparte pan.  Voeg dit in die tamatiesous.  Voeg 1/3 van jou hoeveelheid feta (probeer een kry wat nie so erg sout is nie) by, en wanneer jy die sous oor die pasta gaan skep, gooi jy die res van die feta op die pasta.

 

Room, sampioene, ham/spek/salami

Neem ‘n halwe ui, fyngekap, en braai dit bruin in olyf olie.  Voeg die vleis van jou keuse by, maak gaar indien dit die spek is, en voeg gesnyde sampioene by.  Sodra die sampioene gaar is – dis gou, jy kan nie eens tee maak in die tydjie nie – voeg room by, en laat dit oor lae hitte, verdik.  Roer gekapte pietersielie deur, en bedien op pasta.

 

Daar is hordes maniere om pasta souse te maak, maar ‘n tamatiebasis bly maar ‘n wenner.  Kombineer oorskiet seekos en basil, of ontbeende hoender en tiemie, almal in ‘n tamatiesous basis.

En asseblief, mense wat gereeld hier lees sal weet:  KNOFFEL is ‘n essensiele bestanddeel in my kookproses.  Maak dit joune ook, winter is hier.  Die geheim le daarin om VARS knoffel te gebruik.  Crushed garlic in olie is ‘n lui mens se aankoop, en die knoffel le en fermenteer in daardie olie, wat ‘n vreeslike stank deur jou bloedstroom sal stuur!  VARS, VARS, VARS.  Jy sal nooit terugkyk nie.

Begin kook met ‘n lied in jou hart – die woorde sal op die pasta val, en hulle bedek met die geurigste idees.  

 
8 Kommentaar

Posted by op Mei 30, 2008 in Lekker maklike kos

 

8 responses to “Souse vir pastas

  1. Pikkelik

    Mei 31, 2008 at 9:04 vm

    Hulle lyk almal lekker. Wat ek waardeer is dat almal buiten een ‘n vleiserigheid byhet. Mynick dink mos hy het nie geëet as hy nie vlies/vis/hoender gehad het nie….. 🙄

     
  2. skoor

    Junie 1, 2008 at 11:37 vm

    JouNick klink vir my ‘n man met vele eise! Vleis is altyd ‘n opsie om by te sit, die keuse is die skepper van die gereg s’n!

    As daar nog behoorlike BoelieBief te koop was, kon mens dit bywerk, maar deesdae se gemaalde longe en are sit my af. Jare terug het Woolies geblikte bief uit Suid-Wes gehad. Suiwer vleis. Mensig, daarmee het ons na skool vreeslike lekkertes opgedis.

    Ek mis daai bief…

     
  3. sonkind

    Junie 1, 2008 at 4:22 nm

    Die Liefie sê dankie – hy is die pastamaker in hierdie huis en nou kan hy my verras met nuwe souse, want ek “demand” nogals lekker pasta 😉

     
  4. Skoor

    Junie 4, 2008 at 8:36 vm

    Son, se vir mister Herb ek het vir hom spesiaal nog ‘n pastasousie in ‘n pesto vorm gepost!

     
  5. nita

    September 21, 2008 at 4:15 nm

    baie nice idees vir my taak gekry…Dankie

     
  6. skoor

    September 24, 2008 at 10:41 vm

    As jy ‘n oorskot idees het, stuur hierheen – daar’s altyd plek vir souse vir pastas!

     
  7. Bernice

    Maart 23, 2016 at 4:56 nm

    Met vandag se vleispryse sal ons maar meer gereeld die pastading moet doen en jou souse is my beginpunt. Baie dankie.

     
  8. Jackie

    Augustus 15, 2019 at 3:49 nm

    Regte staatmaker. Dankie

     

Lewer kommentaar op Skoor Kanselleer antwoord